Viking neem deel aan volgende rondte van liga
Die Vikings Ringbalklub van Burgersfort het Saterdag in Polokwane met Parke (Polokwane) en Mogol (Ellisras) in 'n volgende ronde van ligawedstryde kragte gemeet

Beide die Vikings se A1- en A2-spanne sowel as die manspan het deelgeneem. Hoewel die spelers hul beste gegee het, het hulle net ‘n paar wedstryde gewen.
Bianca Malan, voorsitter van die klub vertel dat hierdie groep spelers se spangees en samespel hulle nog ver gaan bring.
“Elke speler het Saterdag sy of haar hart uitgespeel te midde van versengende hitte. Ons afrigters se kennis, tyd en geduld het ons deur die wedstryde gedra. Die Vikings is nie net ‘n groep mense nie, ons is ‘n familie wat mekaar dra en ondersteun.”
Die klub se volgende ligawedstryd word op 13 April by Waterval CVO-skool gespeel.
“Dankie aan die publiek vir die ondersteuning en borge wat ons klub op die been kon kry om in die 2019 Limpopo-liga te kan deelneem,” sê Malan.
Wat is die verskil tussen netbal en ringbal?
Die baanuitleg lyk op die oog af dieselfde, maar daar is klein verskille, soos die halwe driehoeke waar ringbal se vlerke staan, sowel as die kleiner middelsirkel en halwe sirkels teen die kwartlyne van waar die bal afgegooi word. In netbal word die bal van die middel van die baan afgegooi en in ringbal vanaf een van die kwartlyne.
Die manier van doel is ook anders. ‘n Doel in netbal word vanaf die binnesirkel oor die speler se kop met een of twee hande gedoel. In ringbal word die bal van die doel se bene gedoel en ook buite die sirkel met albei hande. Netbal is ook streng met voetwerk. Waar jy die bal vang moet jy stil staan voordat jy dit weer gooi.
Ringbalspelers kan in momentum ‘n paar treë gee sonder om vir ‘n fout geblaas te word. In netbal het jy ‘n senter, ‘n hoofdoel, ‘n hulpdoel, aanvallende vleuel en verdedigende vleuel, hulpdoelverdediger en doelverdediger. In ringbal is daar twee kantdoele, ‘n lyndoel, twee vlerke, ‘n afgooi, twee kantverdedigers en ‘n lynverdediger.
Bron: www.topendsports.com




