Tweede span wys hulle is van staal gemaak
Die Rookatte het Saterdag gemengde welslae op die rugbyveld tydens hul tuiswedstryde teen Barberton Rugbyklub behaal.

Die eerste span kon nie daarin slaag om die manne van Barberton te klop nie. Volgens Riaan Schoeman, afrigter van die Rooikatte, het die eerstes nie die regte spelpatroon gevolg nie en die uitvoering daarvan was ook nie glad genoeg nie.
“Die span is tot meer in staat. Ons is egter onervare en het teen ‘n baie ervare span gespeel. Volgende jaar gaan beslis ‘n perd van ‘n ander kleur wees.”
Die eerste span moes met 31-10 die knie teen die Barbertonners buig. Xolisa Ngangana en Johan Reinecke is onderskeidelik as voor- en agterspeler vir die Rooikatte aangewys.
Die span moes egter ‘n plek op die ligapunteleer afskuif, en beklee nou die vierde plek op die Phakisa-hoofliga se punteleer.
Schoeman was steeds vol lof vir die Rooikatte se tweede span wat goeie rugby gespeel het. Volgens hom het die voor- en agterspelers goed gekombineer. “Rooikatte 2 het die oorhand in die skrums gehad, danksy Arno Oosthuizen en Darius van der Westhuizen se impak. Dit het die losvoorspelers die kans gegee om hul stempel af te druk. Ervare spelers soos Johan Vorster, Brand Visagie en Cassie Steyn maak ook ‘n groot verskil aan die span.”
Die tweedes het ‘n goeie oorwinning van 42-7 teenoor Barberton behaal. Die voorspeler van die dag was Frikkie Albrecht en die agterspeler Hendrik van der Linde. Die span het een plek opgeskuif in die Phakisa-reserweliga en is nou vierde op die ligapunteleer.



