Rambo skrop sy plekkie diep in menseharte
Hy geniet die huislewe en klim tot in die kaste om ‘n skelm lêplekkie uit te soek

LYDENBURG – Ons almal ken die sprokie van die drie varkies, maar ‘n beter storie as dié van Rambo die vlakvark sal jy nie sommer kry nie.
Rambo is die Van den Bergs van die Watervalsrivierpas se troetelvlakvark. Sherri van den Berg het aan die Steelburger/ Lydenburg Nuus vertel dat Rambo en sy sussie langs die karkas van hul ma, wat in ‘n strik gevang was, gevind is.
“Ons sukkel verskriklik met strikke op die plaas. Ons woon tussen Lydenburg en Burgersfort. My man, Eduan, loop so twee keer ‘n week deur die plaas om strikke te verwyder. Ongeveer ses maande gelede het hulle op Rambo en sy sussie afgekom waar hulle by hulle ma, wat in ‘n strik gevang was, gelê het. Die ma was reeds dood, maar die varkies het steeds by haar gebly en gestamp en stoot om haar te probeer bybring.”
Die Van den Bergs het al baie diere verloor deur strikke. “Dit is aaklig om verstrengel te wees en dood te gaan van honger en dors, dis waarom ons nou maar die plaas fynkam. Ons verwyder verskriklik baie strikke en het geen idee waar dit vandaan kom nie.”
Rambo en sy sussie is sedertdien hans grootgemaak en met bottel gevoer. Rambo se sussie is weer terug veld toe, maar hy het gebly. “Hy is baie sosiaal en is gek oor mense. Hy kom in die huis in en ons moes selfs al vir hom ‘n hondehok aanskaf waarin hy slaap. Hy geniet die huislewe en klim tot in die kaste om ‘n skelm lêplekkie uit te soek,” vertel Sherri. Rambo het ‘n spesiale band met sy aanneem-ma, die agtjarige Autum.
“My dogter is die enigste een wat hom uit die huis kan lok en hulle is baie erg oor mekaar. Autum het al ‘n skapie, kalfie en ‘n baarddrakie gehad, maar haar groot liefde is Rambo.”
Volgens Sherri eet hy enigeiets en kom hy ook goed oor die weg met die gesin se vier boerboele.
“Ons het varke waarmee ons op die plaas boer. Die honde weet al dat as ‘n vark uitkom, hy teruggejaag moet word in die hok in. Met Rambo en sy sussie was hulle nie heeltemal seker wat om te doen nie.”
Rambo het ‘n spesiale maat in die gesin se jongste boerboel gevind. “Hulle speel verskriklik lekker en saans gaan kruip hy saam met die honde in met slaaptyd.” Sy suster kom ook nog af en toe vir ‘n bederfie na die huis toe, maar keer dan weer terug veld toe.
Rambo verseg egter om veld toe te gaan. Bedags doen hy sy eie ding, maar sodra daar ‘n kar stop, is hy op die stoep. Die werkers op die plaas weet ook al: aan Rambo word daar nie gevat nie.
Net soos die Amerikaanse aksie-ikoon na wie die varkie vernoem is, is daar geen keer aan Rambo en sy hardkoppige idee om deel te bly van dié gesin nie.
