Editor's choiceLocal newsNewsNews

Dié klein vegter laat hom nie onderkry nie

Tanya is egter vol moed dat haar klein vegter ‘n normale lewe sal kan lei na die operasies.

LYDENBURG – Nes sy Bybelse naamgenoot, is klein Noah ‘n vasbyter en staan mense verstom oor sy vordering ten spyte van verskeie uitdagings.

Noah Buys (6 maande) is op 6 Maart gebore met ‘n gesplete lip en verhemelte en het op 21 Augustus sy eerste operasie ondergaan om gedeeltes van sy sagte verhemelte te herstel. Volgens sy ma, Tanya, het hy baie gouer herstel as wat hulle verwag het.

Sy het Steelburger/Lydenburg Nuus bietjie meer vertel oor hoe dit hulle en Noah se lewens beïnvloed. “Ons het op die swangerskapskandering gesien hy het ‘n gesplete lippie. Ons het egter nie geweet dat die verhemelte ook gespleet is nie. Dit was natuurlik ‘n groot skok, maar ons kon darem voor sy geboorte ons huiswerk doen oor spleetlipkinders en -babas.”

Volgens haar was Noah se voeding baie uitdagend. “Ons het hom eers met ‘n inspuiting gevoer, toe met ‘n groot NUK-tiet en -bottel, tot ons uiteindelik afgekom het op Pigeon se Cleft Lip-bottels. Die refluks was erg, maar die nuwe bottel het baie gehelp.”

Die uitdagings het egter nie by sy voeding en eerste operasie geëindig nie. Terwyl die ouerpaar gewag het dat Noah uit die teater kom, moes hulle hoor dat die bekende radiopersoonlikheid, Jeremy Mansfield, intussen die spot gedryf het met spleetlipkinders. “Hy het aangevoer dat dit voorkom as gevolg van inteling. Dit is nie iets wat ons nodig gehad het om te hoor na sy eerste operasie nie.”

Mansfield het die uitlating gemaak toe hy op die lug was tydens ‘n regstreekse uitsending van Hot 91.9 FM waar hy ‘n aanbieder is. Intussen het nie net die Buyse nie, maar talle ander ouers van spleetlipkinders hulle misnoë oor die kommentaar uitgespreek.

“Tot vandag toe het hy nog nie ‘n verskoning aangebied nie. Ons is egter nog nie klaar met hom nie,” meen Tanya. Noah se operasies word gedoen deur prof. Kurt Butow by die Wilgers Hospitaal in Pretoria. “Dit is ‘n uitstekende hospitaal en Butow het ‘n absolute passie vir spleetlipkinders. ”

Met Noah se opvolgbesoek is daar egter vasgestel dat die onderste lagie van die verhemelte afgekom het, maar volgens Tanya is die professor nie te bekommerd daaroor nie. Sy volgende operasie is geskeduleer vir 28 Oktober waar daar aan sy harde verhemelte, neus en tande gewerk gaan word. Tanya is egter vol moed dat haar klein vegter ‘n normale lewe sal kan lei na die operasies.

Sy nooi ook enige ouers wat deur dieselfde afwyking geraak word om met haar kontak te maak. “Enigiemand kan my kontak. Die bietjie kennis wat ons tot dusver opgedoen het, deel ons graag.”

Besoek ook gerus Noah se eie Facebookblad, Noah Reaghan Buys, vir nuus oor sy vordering.

 

MEER OOR GESPLETE LIPPE EN -VERHEMELTES:

Volgens https://www.cleftfriends.co.za kom ‘n gesplete lip en/of verhemelte voor in ongeveer een uit 700 geboortes. Dit is algemeen in alle etniese groepe en by beide seuns en meisies.

‘n Baba se kop ontwikkel gedurende die vroeë stadium van swangerskap en die gesig is die laaste gedeelte wat gevorm word. Alle gesigte het splete (openings) wat moet toegroei, maar sommige splete mag dalk nie behoorlik toegroei nie. Die boonste lip ontwikkel byvoorbeeld uit drie aparte dele.

Splete ontstaan wanneer sekere dele nie aanmekaar groei nie. Dit word egter nie ten volle verstaan waarom dele van die gesig nie behoorlik aanmekaar gegroei het nie. Die vorming van die lip en die verhemelte is ‘n baie komplekse proses wat gedurende die eerste drie maande van swangerskap plaasvind.

In sommige gevalle is daar ‘n familiegeskiedenis van splete, maar in die meeste gevalle is daar nie ‘n enkele oorsaak nie. Somtyds word die rede hiervoor nooit ontdek nie. ‘n Baba met ‘n spleet sal ‘n hele aantal operasies nodig hê. In sommige gevalle mag só ‘n baba ook gehoor- en spraakprobleme asook probleme met sy/haar tande hê. Dit beteken baie besoeke aan die hospitaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button