Ruiter en haar perd galop eerste plek los
Lirie en haar perd, Arabesque Silver Sun, het vir die 80 kmkinderruiterafdeling ingeskryf en dié rit in 03:44 minute voltooi.

Lirie Mellet (12) het op 14 September aan die Leandra Uithouritklub se jaarlikse Mpumalangakampioenskappe deelgeneem en letterlik stof in die oë van vele ander deelnemers geskop.
Die uithourit, bekend as die Battle of the Giants, toets nie net die ruiters se ryvermoë nie, maar ook die uithouvermoë van die deelnemers se perde.
Lirie en haar perd, Arabesque Silver Sun, het vir die 80 kmkinderruiterafdeling ingeskryf en dié rit in 03:44 minute voltooi. Sy was nie net die wenner nie, maar het ook die titel as Mpumalanga se kinderruiter van 2019 verwerf.
Haar besondere wen is voorwaar ‘n groot prestasie vir die Platorand Uithouritklub waarvan sy ‘n lid is, sowel as vir Mpumalanga.
• Uithouritte is ‘n perdesport wat gebaseer is op beheerde langafstandwedlope. Dit is een van die internasionale kompetisies wat deur die International Federation for Equestrian Sports (FEI) erken word. Daar is wêreldwyd uithouritte. Dit kan enige afstand wees, hoewel dit selde meer as 160 km is vir ‘n eendagkompetisie. Die wenperd is die eerste wat die wenstreep oorsteek, maar eers nadat hy ‘n paar keer gestop het om veeartsenykundige kontrole te slaag wat verseker dat die perd deur die loop van die ren gesond is.
Die Mellet-familie bedank graag vir Jaco en Marietjie de Klerk vir hul moeite met die Mellette se perde. Jaco is ‘n hoefsmid en Marietjie’n plaaslike veearts.
