Wenakker Golf dag
Wenakker vier hierdie jaar hulle 50ste bestaansjaar en die jaarlikse Wenakker Gholfdag het voor verlede Saterdag hierdie feesvieringe afgeskop, maar het dit ook ten doel gehad om as fondsinsamelingsprojek vir die sentrum te dien.
Die baan was in ‘n uitstekende toestand en die hulp en ondersteuning van die Lydenburgse gholfklub-personeel het bygedra om dit ‘n groot sukses te maak.
Volgens Neeltjé Brits, wat gemoeid was met die organisering van die gholfdag, is ‘n goeie bedrag ingesamel wat aangewend gaan word vir die versorging van inwoners van Wenakker. “Sonder die ondersteuning van borge en donateurs, ongeag hoe groot of klein, kon die dag nie ‘n sukses wees nie. Weer eens is gesien dat die Lydenburgse gemeenskap se harte oop is vir die gestremdes in die dorp,” vertel Brits.
Borge het uit hul pad gegaan om te sorg vir lekker pret en versnaperinge op die baan. So is spelers met speletjies vermaak wat vir ekstra geld in die koffers van Wenakker gesorg het.
Tydens die prysuitdeling is ‘n veiling gehou wat op sy beurt verder gesorg het vir geldelike ondersteuning.
Die wenspan vir die dag was Paul en Clarissa Kruger, met Christiaan Willemse en Johan Labuschagne in die tweede plek en in die derde plek, Spyker de Beer en Wynand Ferreira.
Vir enige navrae in verband met Wenakker, of indien enigeen betrokke wil raak daarby, skakel Neeltjé Brits by
083-456-8328.



