‘n Lewe na ‘n ongeluk
'n Kopbesering, 'n gebreekte arm en been, en talle blou kolle was die gevolge van 'n ongeluk wat binne sekondes gebeur het.
‘n Bekende besigheidsvrou in Burgersfort het na ‘n gru-motorongeluk besluit dat, in plaas daarvan dat haar beserings en die ongeluk haar onderkry, sy dit eerder as ‘n leerskool sal beskou en die beste van die slegte saak sou maak.
Gerida Marais was verlede jaar in April op pad dorp toe. By ‘n stop het sy stilgehou, haar flikkerlig aangeskakel en begin draai. Die laaste ding wat sy kan onthou was die geskree van remme. Eers later het sy in die passasiersitplek van die motor bygekom.
Sy is in Mediclinic in Nelspruit opgeneem waar sy operasies aan beide haar bene asook haar een arm ondergaan het. Sy moes ook 11 steke vir ‘n kopbesering kry.
‘n Maand later is sy geopereer om die penne in haar arm te vervang. Sy is veel later ontslaan en terug huistoe met stutte en gips.
‘n Mens sou dink dat so ‘n skok emosionele letsels sou laat, maar Marais se lewe ná haar tragedie is volgens haar net beter. Sy is ‘n Christen en glo dat haar geloof haar deur die moeilike tye gedra het.
Vanselfsprekend sou sy vreesbevange wees om weer te bestuur, maar sy sê sy het dit só oorwin: “Die Here het my vrees kom wegvat. My een hand kon nie meer normaal buig nie, maar een aand tydens lofsang het ek alles aan die Here Jesus Christus oorgegee. Ek het gevoel my hand knak, en dit was genees. Tot vandag toe het my hand my nog geen probleme gegee nie,” vertel Marais.
Sy glo vas dat wonderwerke om ons is en dat jy elke dag voluit moet leef. Uit haar ondervinding is dit duidelik dat jou lewe in ‘n oogwink kan verander, maar wat die verskil maak, is wat jy met jou lewe doen na die verandering. Sy leef nou met die gesegde: “Deur Sy wonde is ek genees.”




