Local newsNews

Bekende kontrakteur van Mbombela sterf

Simptomatiese miëloma het 'n verhoging in die aantal plasmaselle in die beenmurg tot gevolg, wat lei tot orgaanskade.

MBOMBELA – Marius Beetge (48), ‘n alombekende boukontrakteur van Mbombela, is laas Donderdag na ‘n lang stryd met veelvuldige miëloomkanker oorlede. Beetge is in Desember 2017 gediagnoseer.

Lees ook: More Croc River water for Moz

‘n Emosionele Linda Beetge het Laevelder vertel dat sy en Marius 25 jaar getroud was. “Die afgelope twee jaar was ‘n groot tuimeltrein van komplikasies, maar ons het nog steeds tyd gekry om see toe te gaan met al ons hondekinders. Hy was so lief daarvoor om skulpies op te tel.”

Simptomatiese miëloma het ‘n verhoging in die aantal plasmaselle in die beenmurg tot gevolg, wat lei tot orgaanskade. In sekere gevalle vorm dit kankerselle in die beendere van ‘n per-soon, wat lei tot ontsettende beenpyn.

Beetge, ‘n Laevelder in murg en been, is op op 7 Mei 1971 in Sabie gebore. Hy was die jongste van twee kinders en ‘n motorfietsryer van formaat. Van skooldae af al het Beetge met sy veldrenmotorfiets in die moeilikheid beland.

“Hy het die Ngodwana-skoolgronde verwoes met sy kaskenades en het dan die hasepad gekies deur die bure se erwe, tot almal se frustrasie,” vertel Linda.

Lees ook: Family in mourning over the death of two girls
Hy was ‘n opgeleide vegvliegtuig-instrumenttegnikus, maar sy passie het in die boubedryf gelê, volgens Linda. In 1996 het hy saam met Medaljon-ontwikkelaars 120 huise gebou in vier jaar. Die entrepreneur het dit geniet en in 2000 het hy Beetge Konstruksie begin, en was hy doenig met verskeie projekte as boukontrakteur.

Sy bouvernuf het gegroei, en so ook sy lys van klante wat hom van oral genader het oor sy vermoë om groot bouprojekte met sukses aan te pak. ‘n Voorbeeld hiervan is die bouwerk by die White River Country Estates.

Sy voorliefde vir motorfietse het hy gebruik om geestelik te groei. Hy was vir 10 jaar betrokke by die Christian Motorcycling Association  vir die Mpumalanga-area as hul president.

“Hy het die evangelie en saligheid wat Jesus jou kan bied heelhartig verkondig by motorfietssaamtrekke,” het Linda met trots gesê.

“Ek sal altyd onthou hoe Marius sy motorfietse met oormaat versorg het en hoe hy die bromponies toegegooi het onder hulle eie kombersie.”

Laevelder het gehoor hoe Linda die laaste vier aande van Beetge se lewe by hom in die Nelspruit Mediclinic geslaap het.

“Ek wil net sê dat ek met ‘n dankbare hart teenoor God staan vir die geleentheid om nog gehalte-tyd saam met hom te kon deel. My man is verlos van sy pyn en ongemak. Dit was vir my ‘n persoonlik opdrag van die Hemelse Vader om die beste vrou te wees vir hom, sodat hy Jesus in my kon sien en ervaar.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button