Voertuig vol plofstof gevind ná plaasaanval
Die AfriForum-buurtwag in Witrivier het in samewerking met die SAPD vandag 02:00 ’n Toyota Fortuner opgespoor wat gebuit was tydens ’n plaasaanval.
WITRIVIER – Volgens Hennie Bekker, die distrikskoördineerder van Laeveld AfriForum, was ’n boer besig om die grensdrade op sy plaas na te gaan toe hy oorval was.
‘n Onbekende aantal verdagtes het uit ‘n ander voetuig gespring, die boer aangekeer en daarna met sy voertuig weggejaag. Die boer was ongedeerd gelaat in die aanval wat omstreeks 22:00 gisteraand plaasgevind het.
ALSO READ: BREAKING NEWS One suspect shot dead in early morning farm attack on the Uitkyk road
Die Witrivier-buurtwag is Sondagaand net voor middernag in kennis gestel van die aanval en roof, en het ‘n soektog van stapel gestuur na die verdagtes wat na bewering gewapen was.
Johan Pelser, die veiligheidsvoorsitter van AfriForum, bevestig dat buurtwaglede die silwer Fortuner, sonder nommerplate, by ’n Total-vulstasie in kaBokweni gewaar het. Buurtwaglede en die SAPD het die voertuig agternagesit en dit tot by Masoyi gevolg. Die voertuig was naby Ga-Tshwene afgetrek, waarna twee verdagtes te voet gevlug het.
ALSO READ: No arrests in farm attack near Hoedspruit
Bekker beweer dat verdagte sakke in die voertuig gevind was met wat die polisie as plofstof geverifieer het. Die SAPD se plofstofeenheid is gevolglik na die toneel ontbied. Daar bestaan ‘n vermoede dat die verdagtes die plofstof moontlik wou gebruik het om ander misdade in die omgewing te pleeg.
“Niemand is al in hegtenis geneem nie,” het Bekker gesê.
Almal was bedank vir hul goeie samewerking in die opsporing van die voetuig deur Pelser. “Mense moet meer paraat wees en betrokke raak in hul gemeenskappe,” het Pelser gesê.
Sers. Cynthia Mbokodo, die woordvoerder van die SAPD, het nie kommentaar gelewer teen druktyd nie.
