Geliefdes roep ‘engel van die Laeveld’ vaarwel
Rona Labuschagne was 'n ligstraal vir almal met raad, daad, bemoediging, hulp, liefde, en 'n oor om te luister.

MBOMBELA – Een van die Laeveld se mees bekende en geliefde inwoners, Sr. Rona Labuschagne (67), se roudiens is vanoggend by die NG Moedergemeente gehou.

Sy is Donderdag oorlede. Rona was vir meer as 34 jaar by KANSA Laeveld betrokke.
LEES MEER: Sr Rona retires from CANSA
Almal wat haar geken het, is dit eens dat sy ‘n groot impak gemaak het en haar dood ‘n enorme verlies is vir almal wie se lewens sy aangeraak het – pasiënte, versorgers en vriende.

Hier is wat van die Laevelders wat haar goed geken het, gesê het.
Mantoine van Biljon
Ek het tannie Rona leer ken 29 jaar gelede toe ek ‘n KANSA-debutant was. Sy het altyd met passie en empatie geluister na elke pasient of familielid se storie; alhoewel sy altyd opreg geluister en mens gemaklik laat voel het, het sy nooit mooi prentjies geskilder as dit nie die realiteit was nie.
Sy was reguit en eerlik met haar ondervinding van die pad vorentoe, maar altyd erken dat mens kan vasklou aan hoop en die wil van die Here.
In 1991 het ek my eie moeder skielik aan ‘n baie agressiewe kanker verloor. Dit was nie eens drie weke van diagnose tot haar dood nie. Tannie/suster Rona het elke dag by ons kom inloer by die hospitaal, sy het by ons gesin by die huis kom kuier en vir ons gehelp om te verstaan waardeur my ma gaan en hoe ons haar kon ondersteun.
Sy was die een met wie my ma en soveel ander kankerpasiente kon oopmaak en praat oor al hulle verse, bekommernisse en onsekerhede. Saam met haar dra sy soveel mense se laaste wense, geheime en belydenisse. Soveel dankbare harte was betyds om afskeid van hulle geliefdes te neem omdat tannie Rona se jarelange ondervinding hulle kon voorberei op dit wat voorlê.
Ek gun Tannie die rus, maar een ding weet ek verseker, ek sal Tannie elke dag, baie baie baie mis!”
Henriette Sieckers
Dierbare Rona met die sagte stem en altyd ‘n glimlag in jou oë…
In die paar jare wat ek jou kon ken, het jy diep spore in my lewe getrap. Groter nog – die voorbeeld van diens aan jou medemens, diep gekerf, tot in die grein van die gemeenskap.
Daar is soveel mense deur jou hande geraak – versorging, troos, pynverligting, raad… die lys raak net langer. In jou propvol-dae het jy altyd nog tyd gehad vir diegene om jou… dis wat my sal bybly.
Jy het my die woorde “Liewe Jesus-salfies” geleer en dis wat jy jou lewe lank uitgedeel en aangesmeer het. Jy laat ‘n groot leemte, maar jy laat ook verseker diegene na wie se wonde deur jou “salfies” genesing kon vind.
Wat ‘n voorreg om jou te kon ken!

Maria Scholtz
Woorde kan nie beskryf hoeveel sr. Rona vir ons beteken nie. Sy was die oor wat geluister het… die skouer waarop ons gehuil het… die skoot waarop ons kinders gesit het. Sy was die stem wat ons raad en raas gegee het. Sy was ons engel… ons moeder Teresa. Sy het ons geleer hoe om te gee… onbaatsugtig. Ons sal haar herinneringe vir altyd koester, en altyd opkyk en weet dat die mooiste engel in die hemel sy is. Ons innige simpatie aan elkeen van julle.

Thembi Ngwenya
To lose someone I love so much brings pain beyond belief. There are no words to ease my pain, my sadness and my grief. I feel I’ve lost someone so close, so wonderful and dear. I think about your special ways and wish that you were near. Although you have left this world, you’ll will stay within my heart, guiding like and angel, even though we are apart, for love is everlasting and so are memories and your legacy that’s always there to light the way for me. You are a more than a colleague to me; you are a mother, a granny and everything to me. May your soul rest in peace.
Jacqueline Weideman
Rona – Engelvrou,
Rus sag Rona, my hart is stukkend! So baie goeie memories saam met jou!
Jy was en sal altyd een van die mees spesiaalste mense in my lewe wees.
Jy was soos ‘n mamma vir my, ‘n ouma vir Zack, steunpilaar, luisteraar, en ‘n berader met die magdom woorde wat jy nie net vir my nie, maar vir soveel ander ook, gehad het.
Mag jou vlerke van liefde vir altyd met hulle wees wat die stryd stry… Geniet dit by ons Hemelse Pappa…
Tot ons mekaar weer ontmoet!
- Lees meer huldeblyke in vandag se uitgawe van Laevelder.
KYK OOK: A moment of silence for Sr Rona Labuschagne at the CANSA Shades of Pink Walk



