Local newsNews

Prokureur van rol geskrap na geldverduistering

'n Plaaslike prokureur is van die rol geskrap nadat hy geld van die Padongeluksfonds, wat vir sy kliënte bedoel was, in sy eie sakerekening oorbetaal het. 

Die Mpumalanga Hooggeregshof het beslis dat Daniel Themba Mabunda, wat in die stad praktiseer het, ook aan die polisie oorhandig word vir ‘n kriminele ondersoek.

Verskeie kliënte het klagtes teen Mabunda ingedien en dit het die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies genoop om die proses van sy skrapping te loods.

Regterpresident van die hof, Francis Legodi, het bevind dat Mabunda sy kliënte se geld verkeerd aangewend het en oneerlik opgetree het. Hy het bygevoeg dat Mabunda nie bevoeg is om op die rol te bly nie.


Mabunda het in verskeie gevalle geld na sy eie sakerekening oorgeplaas. Die Padongeluksfonds het op 18 Maart 2015 R560 000 aan die trustrekening betaal ná ‘n suksesvolle eis. Mabunda het kort daarna R160 000 en R400 000 onderskeidelik na sy rekening oorgeplaas, het die hof bevind.

Daarna het hy R200 000 betaal aan ‘n bankrekening wat nie aan die kliënt behoort nie, terwyl ‘n ander bedrag van R286 720 aan ‘n ander rekening betaal is.

In Junie 2015 het Mabunda se trustrekening meer as R2,6 miljoen ontvang wat deur die fonds uitbetaal is. Hy het egter aan die kliënt gesê dat slegs R2,2 miljoen uitbetaal is, en ‘n bedrag van R340 132 weerhou.

LEES OOK: Drought in KNP devastating for animals

Die kliënt het uiteindelik slegs R1,5 miljoen van Mabunda ontvang.

In ‘n afsonderlike voorval, vier maande later, het hy ‘n bedrag van R325 513 na sy sakerekening oorgeplaas. Dit was ook geld wat die fonds vir nog ‘n suksesvolle eis uitbetaal het.

Legodi het beslis dat Mabunda se bedoeling duidelik was om onbehoorlik te wees, en genoem dat fondsgeld onder geen omstandighede in ‘n sakerekening betaal mag word nie.

Mabunda se verweer in Julie 2018 was glo dat hy die res van die uitstaande geld wel aan sy kliënte oorbetaal het, en dat die oorplasings net vertraag was. Die hof het egter beslis dat dié slegs ‘n poging was om die “stilte van die kliënte te koop”.

Legodi het bygevoeg dat die fonds padongelukslagoffers aanmoedig om direk van hulle te eis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Lande Willemse

Landé Willemse is a multiple-award-winning journalist and editor with more than two decades of experience across print, digital, and broadcast media. Her work, which includes photography, spans investigative reporting, sport, agriculture, tourism, political and community news, with bylines across several respected South African publications.
Back to top button