Die storie van die spook van Katoenplaas
Johann van Zyl van Rhenosterkop, wat die geskiedenis van ons kontrei redelik goed ken, sê hy onthou ook nog die storie van die spook van Katoenplaas buite Witrivier.

Die storie was die koerante vol en veral die Sondagblaaie van die tyd het wyd hieroor berig.
Die storie oor die spook van Katoenplaas was ook die voorbladberig van Die Laevelder op 18 Augustus 1960, aanstaande jaar net mooi sestig jaar gelede:
“WITRIVIER, Maandag. – “Hy het die kind weer gesny”, het mnr. Thys de Bruin van die plaas Katoen, drie myl uit Witrivier op die pad na Nelspruit, in die polisiekantoor uitgeroep, toe hy verlede week met sy negentienjarige seun Jim aan sy arm, die polisiestasie binnegekom het.
Jim en sy vader het albei in ‘n senuagtige toestand verkeer en bloed het op Jim se bors deur sy wit hemp gesypel. Toe hy sy hemp oopmaak, was vars snywonde op sy bors sigbaar. Aan sy bene was op verskeie plekke, van sy enkels tot op sy bobeen, ‘n netwerk van snye aangebring. Bloed het in strepe langs sy bene droog geword.”
Die berig lui voorts dat die rustige stilte op Katoenplaas reeds die Dinsdagaand versteur is toe voorwerpe op die dak gegooi is en breekware binne deur onsigbare hande gebreek is.
Teen Woensdagoggend was daar nie meer ‘n enkele koppie by die De Bruins oor nie – maar die ergste moes nog gebeur.
LEES OOK: Eens ‘n inwoner, altyd ‘n inwoner
Woensdagaand, so sê Die Laevelder van sestig jaar gelede, terwyl die De Bruin-gesin saam in die kombuis was, het Jim, wat op ‘n stoel by die tafel gesit het, onverwags ‘n brandgevoel aan sy been gekry. Die volgende oomblik het bloed uit vars sny- en krapwonde gevloei.
In haar haas het mev. De Bruin iets gegryp wat op die tafel gelê het, wat vir haar gelyk het na ‘n doek. Toe sy by Jim kom, sien sy in die kerslig dat wat sy gegryp het eintlik ‘n stuk bobbejaanvel was.
Binne in die bobbejaanvel was drie stokkies wat styf met draad vasgedraai was. Hierdie velletjie en stokkies is, nadat die polisie by die huis aangekom het, verbrand, lui die berig.
Die polisie het nog dieselfde aand die plek deeglik met flitsligte deursoek, maar niks en niemand kon gevind word nie.
“Dié wat gesien het wat gebeur het, sê dat elke keer net voordat Jim die brandgevoel aan sy bene en lyf gekry het, die geluid van ‘n skeetmeslemmetjie wat op die grond val, gehoor is. So iets was egter nêrens te sien nie.”
Terwyl hoofkonstabel Wessels die Woensdaagaand deur die voorhuis geloop het, is ‘n blompot van een kant van die kamer na ‘n ander geslinger, waar dit in stukke gespat het.

Ook die polisieman het aan die koerant vertel dat daar niemand anders in die vertrek was nie. Al die deure en venster was ook dig toegemaak. Wessels kon geen verklaring daarvoor vind nie.
Die berig lui verder dat Jim inderhaas na ‘n buurhuis gebring is waar daar niks verder met hom gebeur het nie.
Donderdag het die aanvalle weer begin, waar Jim, toe weer terug by die huis, op ‘n bed in die stoepkamer gelê het.
Die keer het die Metodiste se leraar van Witrivier saam met speurders en die polisie by die seun waggehou, toe dit weer gebeur het. Hierdie keer is hy erger gesny as die vorige kere. Hulle het hom haastig met ‘n vragmotor weggebring. Selfs oppad het die aanvalle nog voortgegaan.
LEES OOK: Wyne spog met unieke name
Teen die Saterdag het die De Bruins die seun na Bethal geneem waar iemand was wat hulp kon verleen. Blykbaar het dié man gesê hulle moes nooit die bobbejaanvelletjie verbrand het nie. Die familie moes dit in ‘n sloot water of rivier gegooi het sodat dit die fenomeen van hulle kon wegdrywe.
Sondag was daar niks. Talle mense het van die saak te hore gekom en honderde besoekers het na die plaashuis begin stroom.
Maandagoggend het die aanvalle weer begin. Jim is aan sy skouer en bobeen gesny en sy vader moes hom weer eens uit die huis verwyder.
In ‘n volgende uitgawe van Die Laevelder het daar weer ‘n foto van Jim verskyn. Hy sit netjies op ‘n stoel op die stoep.
Die onderskrif lui:
“Alles stil. Die jongste berig van die plaas Katoen, Witrivier distrik, is dat alles terugekeer het tot normaal. Geen verdere aanvalle is op Jim gemaak nie.
Daar word verneem dat Jimmy nou by ‘n kafee in Witrivier werksaam is. Die saak is nog oop op die boeke van die polisie te Witrivier en die hele besigheid bly nog ‘n raaisel.”

Ons het gaan soek na die spookhuis van Katoenplaas. My kollega Willie Venter het vasgestel waar die oorspronklike plaas was, net buite Witrivier op die pad na Nelspruit, regs, net anderkant die Sasolvulstasie.
Deesdae is die grond verder verdeel in hoewes en erwe. Op ou koerantfoto’s lyk die woonhuis al oud. Duidelik ‘n pionierstruktuur wat nie die afgelope sestig jaar oorleef het nie. Miskien weet een van ons lesers of daar nog iets van oor is – dan hoor ons graag.
Johann van Zyl sê hy onthou ook vaagweg dat die saak toe wel later opgelos is. Blykbaar het die seun outydse grammefoonnaalde, punt na buite, tussen sy vingers versteek en homself so gekrap.
Elke keer as dit lyk asof hy wou keer, het hy himself net meer gekrap. Johann sê hy dink Jimmy wou net aandag trek.
Oor die vlieënde blompotte en die bobbejaanvel was daar nie ‘n verklaring nie.
‘n Mens wonder hoeveel ouer lesers nog die voorval onthou. Ook wat toe later van die jong Jimmy de Bruin en sy mense geword het. Sou hy nog leef, is hy vandag ‘n man van vlak by die tagtigs.
LEES OOK: Twee van Witrivier Stoeiklub gekies vir die Pumas-span
