Fred Daniel weer in die hof
Oud-Laevelder Fred Daniel is een van 12 eisers wat deel is van ’n siviele geding teen 25 verweerders, waarvan die Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad (MPTA) een is, wat dié week in die Hoëhof in Pretoria aangehoor word.

Adjunk-president David Mabuza is ook een van die verweerders.
Daniel en die ander eisers, wat maatskappye wat aan hom behoort insluit, eis R1miljard van verskeie staatsinstellings en individue vir ’n beweerde politieke sameswering teen hom as ’n sakeman.
Daniel was eienaar van Cradle of Life, ’n natuur- en wildreservaat in Badplaas. Die reservaat is intussen verkoop. Laevelder het in 2019 berig dat Daniel gesekwestreer is. Die sekwestrasie is later in 2019 ter syde gestel en die voorlopige likwidasie van sy ondernemings is ook gestop.
Daniel het al so vroeg as 2017 beweer dat die MPTA hom teister en het ’n beskermingsbevel teen die organisasie gekry.
In 2018 het hy ’n tussentydse bevel teen Mabuza gekry, waarin hy beweer het dat Mabuza en die MPTA hom teister en Cradle of Life, ’n wildsplaas in Badplaas, saboteer. Sarel Grabe, ’n landdros van Carolina, het later die bevel ter syde gestel.
LEES OOK: Jong Laeveldse boer soek ‘n vrou
In 2008 het Daniel ongerymdhede rondom grondeise oopgekrap en beweer dat die teistering as gevolg daarvan begin het.
