Wêreld-onderwysersdag: Oud-Nellie Wessel Pretorius dra ‘n lofgedig op
‘n Bietjie aandag, begrip en sorg kan self die robuuste woestynding skouspelagtig laat spog.

Onderwysers van regoor die wêreld doen veel meer as net hul plig om hul leerders te ondersteun, hul gemeenskappe aan te moedig en hul vaardighede te verbeter.
“Julle is die ruggraat van die toekoms van onderwys in Suid-Afrika. Moet nooit dink dat die bydrae wat julle daagliks lewer, nie as belangrik geag word nie,” het die Suid-Afrikaanse Onderwysers-unie, ter viering van wêreld-onderwysersdag op 5 Oktober gesê.
In ‘n lofgedig aan bogenoemde, het ‘n voormalige Hoërskool Nelspruit-leerling, Wessel Pretorius (klas van 2004), die volgende geskryf:
‘n Kind kan soms vergelyk word met ‘n vetplant.
Hulle is hardvogtig, geniepsig en koppig. Maar dit beteken ook dat hulle deursettingsvermoë en weerbaarheid toon in die troostelooste van omstandighede. Jou adolessensie is ‘n woestyn van hormone en wanbegrip waarteen jy met die skerpste van dorings beskud moet wees. Behalwe dat kaktusse aansienlik minder water nodig het as kinders, is hulle nogtans eenders in die manier hoe die astrantste kinders die langste uithou.
LEES OOK: Bydrae gevra vir Cyzelle se pad na herstel
Nes ‘n kind, kan selfs ‘n kaktus estetiese waarde hê. Dis ‘n ideale versiering vir die besige professioneel in ‘n eenslaapkamerwoonstel. Kinders kort dalk meer ruimte, maar hulle verg min of meer dieselfde aandag en beide is ewe mal oor ongevraagde drukkies of soentjies. Dalk is dit ‘n goeie idee om te noem dat ek nie kinders het nie. So moet liefs nie my advies ernstig oorweeg nie.
Ek weet egter een onwrikbare feit oor beide spesies. Vetplant en kind is albei op hul mooiste as hul blom. Toe ek maar nog ‘n klein sukkulent was, moes ek triestig toekyk hoe ander flora vertoon met die mooiste kaktusblomme. Die een na die ander kon spog met skakerings van talent en prestasie. Sou ek vir altyd maar net ‘n vervelige aalwyn bly of sou selfs ek ‘n vuurpyl kon afskiet in die verlate landskap van my jeug?
Hier is ‘n geheim. Vir ‘n kaktus om te blom kort hy lig en donker. En al oorleef hy lank sonder vloeistof is dit tog noodsaaklik dat iemand hom natlei.
Die lig en donker word sommer outomaties deur die lewe voorsien, maar die spaarsamige toedien van water is ‘n ander saak. In die woestyn is jy afhanklik van weersomstandighede, maar in die voorstede moet iemand verantwoordelikheid neem. U vetplant-verteller is periodies natgelei met rugby-entoesiasme, aardrykskunde en hoogspring. Niks wou vat nie.
Moet nie ‘n fout maak nie, ek was dankbaar vir die ywer, maar van blom kon niemand getuig nie. Dalk moet ek ook noem dat ek ‘n genus van ‘n rare soort in my gebied was. Waar die ander plante hulself kon voed op krieketballe en geesvang, was ek meer gevoelig vir letterkunde en konserte.
Die moontlikheid dat ek bloot kaktus sou bly het naderhand vir my groot kommernis veroorsaak. Maar die natuur sorg. Die wolke het saam begin pak om ‘n koesterende hand te skep. Ek is wortel en al uitgegrawe en in ‘n mooi pot verplaas. Ek is genoeg water en lig gegee om stadig maar seker my eerste blom te laat opvou.
As die seun van ‘n onderwyseres en die produk van ferm tog liefdevolle aanmoediging kan ek eerstehands getuig van die krag van onderskraging. ‘n Bietjie aandag, begrip en sorg kan self die robuuste woestynding skouspelagtig laat spog. Dit verg egter geduld, kennis van dorings, handskoene en partykeer – verdraagsaamheid vir kunsmis.
Onderwysers is forse van die natuur wat ‘n kind kan maak of breek. Aardverwarming het dinge kompliseer, maar wanneer die omstandighede reg is kan water en kaktus verenig om ‘n hele woestyn met kleur te laat verskiet.
