Local news

Kommer ná ernstige ongeluk op R40 in Mbombela

Drankbottels vanuit een van die betrokke voertuie was duidelik sigbaar op ’n Mbombela ongelukstoneel.

’n Ernstige botsing op 12 September op die R40 het opnuut kommer gewek oor roekelose bestuurders in die stad.

Dit volg nadat die welbekende inwoner, Leendert de Bruin (44), by die R40/dr. Enos Mabuza-kruising ternouernood aan die dood ontkom het.

Leendert de Bruin.

LEES OOK: Gru-ongeluk eis pa en seun se lewens in Witrivier

’n Volkswagen Polo, wat in die Barberton-rigting gereis het, het glo teen ’n hoë spoed versuim om by die rooilig stil te hou en met Leendert se voertuig gebots.

Die impak was so groot dat Leendert uit sy Volkswagen Kewer geslinger is en etlike meters van die voertuig af in die pad te lande gekom het.

Die Volkswagen Kewer.

Leendert se pa, Gerhard, het aan Laevelder vertel dat Leendert kort ná 07:00 van Steiltes na die Core360-gimnasium onderweg was toe die voorval plaasgevind het.

Die drie insittendes van die silwer Polo, twee mans en ’n vrou, was volgens ooggetuies in die voertuig vasgekeer. Reddingskake moes glo gebruik word om hulle te bevry.

Drankbottels op ongelukstoneel

Beeldmateriaal wys hoe die toneel met drankbottels besaai was. Ooggetuies en beeldmateriaal toon ook hoe een van die Polo se insittendes, wie se identiteit nie aan Laevelder bekend is nie, oor sy eie voete struikel.

Volgens Gerhard was nooddienste vinnig op die toneel en is Leendert gestabiliseer voordat hy na Nelspruit Medikliniek vervoer is. ER24 het aan Laevelder bevestig dat die ander beseerdes onderskeidelik na Nelspruit Medikliniek en Rob Ferreira-hospitaal geneem is.

Die silwer Polo nadat hy oopgesny is.

“Leendert is in die intensiewesorgeenheid, en ons is nog onseker oor die presiese omvang van sy beserings,” het Gerhard gesê.

Leendert het verskeie frakture oor sy hele lyf opgedoen en sy toestand is kritiek.

LEES OOK: Jong pa sterf in gru-botsing op R40 naby Witrivier

Gerhard, wat self op die toneel was, sê hy was geskok toe verkeersbeamptes volgens hom eers sowat ’n uur later saam met die SAPD op die toneel opgedaag het.

Inwoners spreek kommer oor roekelose bestuur uit

Die ongeluk het ook wyd kommentaar op sosiale media ontlok, met Laevelders wat hul kommer uitgespreek het oor padveiligheid by die stad se besige kruisings en die verantwoordelikheid van motoriste. Caren Viljoen Mortlock sê sy is bekommerd oor die veiligheid van padgebruikers by die R40-kruisings.

“Motoriste stop nie meer vir ’n rooi verkeerslig nie. Ek het Saterdagoggend om 01:00 van die hospitaal af gekom, en as ek nie gestop het terwyl die lig vir my groen was nie, sou ek vandag dood gewees het. Die bestuurder het teen ’n hoë spoed oor ’n rooilig gery sonder om enige poging aan te wend om te stop. Daar is kameras by die R40-kruisings – waarom gebruik wetstoepassers dit nie om oortreders vas te trek nie?”

Gerda Liebenberg sê motoriste moet groter verantwoordelikheid op die paaie neem.

“Mense is baie ongeduldig en roekeloos. Bestuurders moet meer verantwoordelikheid op die paaie toon en nie te vinnig ry nie – dit is gevaarlik. Moenie drink en bestuur nie.”

Yolanda Koch sê die kruising is dieselfde plek waar sy voorheen in ’n ongeluk betrokke was.

“Twee mense het op die dag van my ongeluk oor die rooi verkeerslig gery,” sê sy.

Wendy Ntseke sê sy het die ongeluk op pad werk toe gesien. “Ek het self ’n man op hierdie manier verloor; ek verstaan die pyn van ’n familielid wat gewag het dat iemand huis toe kom, maar dit nooit gebeur het nie omdat iemand ’n slegte besluit agter die stuur geneem het.”

Laevelder ontvang gereeld boodskappe van lesers oor roekelose bestuur op die stad se paaie, wat volgens hulle nie altyd deur wetstoepassers waargeneem word nie.

Meer kameras vir hoërisikogebiede beplan

Volgens Joseph Ngala, woordvoerder van die Mbombela-munisipaliteit, werk hulle saam met privaat sekerheidsmaatskappye en die SAPD om inligting van kameras vir verdere ondersoeke deur te gee.

“Dis jammer om te hoor dat inwoners voel die munisipaliteit doen nie genoeg om roekelose bestuurders vas te trek nie. Die nuwe kameras beskik oor nommerplaat-herkenning, wat help om oortreders op te spoor,” sê Ngala.

Hy sê die munisipaliteit werk ook daaraan om meer kameras in hoërisikogebiede op te rig.

Die polisie se kommentaar kon nie voor publikasie verkry word nie. Dit is ook nie bekend of die bestuurder van die Polo teregstaan op enige aanklagte nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button