Local newsNews

Craft-drankies, brandrissies en Laeveld-uitsigte

Die eienaars van Syeta Bush Lodge het op 26 September die gemeenskap saamgebring rondom kos, 'n paar drankies en 'n uitsig oor die Laeveld.

Wat is dan nou ‘n beter manier om jou besigheid se naam uit te kry as om die gemeenskap saam te bring rondom kos, ‘n paar drankies en ‘n uitsig oor die Laeveld?

Dit is presies wat die eienaars van Syeta Bush Lodge sowat twee weke gelede gedoen het met hulle Lockdown Craft Beer, Distilling and Chilli Sauce Expo by dié lodge.

“Dit is die eerste een, maar vir seker nie die laaste nie,” het Michelle Verster, wat die lodge saam met haar man bestuur, vertel. Hulle het net voor die grendeltydperk oopgemaak.

LEES OOK: FOTOS: Mnr. en Mej. Bergvlam gekroon tydens glansgeleentheid

“Ons beplan om dit so drie tot vier keer ‘n jaar te doen. Ons doel is om almal weer bymekaar te bring en te kyk wat die gemeenskap vir mekaar kan bied; veral om mense se handelsmerke te bemark wat nog nie daardie eerste tree geneem het nie.”

By dié geleentheid was Rooibaard se souse, Brewvado Brewery (nuut in Mbombela met al jou broubenodighede), Inyati (van whiskey, mampoer en ysies met ‘n skop, tot brandrissiesous), en Aunties Take Away, ‘n uitstal-geleentheid gegun.

Verrigtinge het om 12:00 afgeskop en Verster het gesê mense het gekom en gegaan deur die dag.

“Dis ‘n heerlike atmosfeer en dit het regtig goed gegaan. Ons het eintlik niks verwag nie omdat ons ‘n slegte tyd gekies het. Ten spyte daarvan, is ons dankbaar vir die bywoningsyfer en ondersteuning.”

Daar was deur die dag ‘n aantal van 133 mense wat die ekspo besoek het.

“Mense geniet dit en dis al wat saakmaak. Die terugvoer wat ons gekry het was dat dit ‘n ongelooflike mooi plek is.”

Op gewone dae is dit ‘n lodge waar funksies en verjaarsdae gehou kan word. Daar is tans ten volle gemeubuleerde tente en volgens Verster is daar ook chalets in die pyplyn.

LEES OOK: Plaaslike pastoor lei gebedsaksie vir vreedsaamheid

“Daar is ‘n kroeg in die swembad en ‘n lekker bonfire is ook een van ons aantrekkings, veral in die aand onder die sterre.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button