Verdagtes in Gerrit Stander-saak laat vaar aansoek om borgtog
Dit is hulle tweede verskyning in die Witrivier-landdroshof op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en moord.
Die twee verdagtes in die Gerrit Stander-moordsaak het vandag vir die tweede keer in die Witrivier-landdroshof verskyn.
Stander en sy gesin is op 19 Oktober op sy kleinhoewe in die Plaston-gebied aangeval. Hy is drie keer raakgeskiet en het in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Sy vrou en kind is nie tydens die aanval beseer nie.
Die verdagtes, Vusi Sabelo Nkosi (26) en Lucky Sibiya (24), word aangekla van roof met verswarende omstandighede en moord.
LEES OOK: Eerste verskyning vir twee verdagtes in die Gerrit Stander-moordsaak
Na hulle aanvanklik verlede week tydens hul eerste verskyning laat blyk het dat hulle om borgtog aansoek wil doen, het hulle intussen van plan verander.
Die mans het die aansoek om borgtog laat vaar na hulle aan hul prokureur gesê het dit is ’n “kwessie van publieke vreedsaamheid”.
Daar was skynbaar ook ander redes wat hulle nie aan die prokureur wou bekendmaak nie.
Hulle sal in aanhouding bly tot hul volgende verskyning op 2 Desember. Die ondersoek duur voort.
