Hayley verskyn eersdaags op vitiligo-kalender
Nagenoeg 1 % van die wêreldbevolking het vitiligo, ’n velkondisie wat wit kolle op die vel veroorsaak. Die 12-jarige Hayley Steyn, ’n Curro Nelspruit-leerder, is deel van hierdie handjievol mense. Sy wil ander inspireer om hulself te wees en tuis te voel in hul eie vel.
Hayley omhels haar velkondisie as ’n inherente deel van haarself. As jong tiener wil sy graag ander inspireer. Sy het reeds ’n Instagram-blad, @vitiligorocker, en haar volgende groot stap is haar verskyning op die 2022 Vitiligo Awareness Calendar.

Sy is een van drie Suid-Afrikaners wat gekies is; die ander twee is modelle. Beide ma en dogter is baie opgewonde om die resultate te sien. Hulle weet nog nie watter maand sy gaan verteenwoordig nie, maar Hayley hoop dis Julie, aangesien dit haar verjaardagmaand is.
Op Wêreldvitiligodag, Vrydag 25 Junie, sit sy saam met haar ma, Mechelle, in die sitkamer en gesels oor haar reis met vitiligo.

Hayley is oor minder as ’n maand 13 en is in Maart 2018 met vitiligo gediagnoseer. Dit was die eerste keer op haar knieë sigbaar en is nou al op meeste dele van haar liggaam.
LEES OOK: Fred en Hannetjie Kinnear sal deur vele onthou word
Sy en haar ma verduidelik wat die kondisie behels en hoe dit kan verskil van mens tot mens.
“’n Mens kan partykeer met dit gebore word of dit kry soos mens ouer word,” sê die jonger Steyn. Haar ma verduidelik ook dat dit jou lewe lank met jou kan bly of met tyd kan verdwyn.

“So daar is nie ’n lyn nie, daar is nie ’n dis-hoe-dit-werk-met-almal nie,” het Mechelle gesê.
Wat behandeling betref is daar ’n paar opsies (wat kan werk of nie), soos byvoorbeeld fototerapie (wat amper soos ’n sonbed werk) en room, maar Hayley het besluit dit is nie vir haar nie.
LEES OOK: Bobbejaanbyt skeur man se skouer oop in Marlothpark
Dit vat omtrent ’n minuut en is eintlik meer moeite as enigiets anders, het die twee gesê.
Hayley het gesê deur die proses van hul soeke na ’n behandeling, het sy besef sy het vrede met vitiligo gemaak. “Dit is nie seer nie, dit steek nie aan nie…”
Soos Hayley dit ervaar, lei trauma op die vel daartoe dat meer kolle vorm. Dit kan enigiets van juwele tot klere wees wat teen die vel skaaf.
Op hierdie stadium vermeerder haar kolle, en sy sê dat spanning soos gedurende skooleksamen, ook daartoe bydra.

Hayley is van plan om volgende jaar Hoërskool Nelspruit toe te gaan, wanneer haar sussie dan in matriek sal wees. Sussie is ook ’n steunpilaar vir haar.
Teenoor verwagtinge sê Hayley dat sy eintlik nog nooit rêrig geboelie is as gevolg van haar vitiligo nie. “Ek dink nie ek het ooit gevoel ek moet dit wegsteek of iets nie, want my ma het ook vir my gesê ek moenie probeer wegsteek wat ek het nie.”
So min mense in die wêreld het vitiligo, en soos Hayley sê, “as jy dit het, flaunt dit.
“So ja, ek het dit nooit rêrig probeer wegsteek nie, en almal het net aanhou sê, ‘Oe, dis mooi’. Ook, hoe meer ek dit gekry het, hoe meer het my vriende dit begin omkring en prentjies probeer maak – dit het ook gehelp met my selfvertroue.”
LEES OOK: Gebede vir baba Ayden bring hoop
Mechelle het dit beaam en gesê: “Sy lyk partymaal of sy in die press daar by die Laevelder geval het as sy by die huis kom. Dan het hulle nou, soos met wolke, probeer prentjies maak van die kolle.”
Winnie Harlow, ’n model met vitiligo, is een van Hayley se bronne vir inspirasie.

“Ek het haar altyd op sosiale media gesien en gesien sy flaunt dit in alles wat sy doen. In die begin het ek soos sy probeer wees, maar toe kom ek agter ek kan ook myself wees. So het ek agtergekom ek is oukei met my kolle.
“Dis die eerste persoon wat ek gesien het wat soos ek lyk, so dis hoekom ek gedink het sy is cool. Ek sal ook graag ’n inspirasie vir ander mense wil wees.”
Hayley het gesê baie mense het al na haar vel gekyk, “maar dit is ook nie so erg vir my nie, jy moet maar net mense kry wat jou omring met goeie energie.”
Haar ma lees gereeld vir haar van kinders en ouers wat dit vreeslik sleg hanteer, en dit moeilik vind om daarmee vrede te maak.
LEES OOK: Maak jou kasdeure oop in dié moeilike tye van strenger grendelregulasies
“Ons voel net ons het dit nog nooit rêrig so ervaar nie. Ons het opgelees, gesien dis wat dit is, besef daar is niks wat ’n mens daaroor kan doen nie en dan gaan jy met dit,” sê Mechelle.

“Ek sê altyd vir haar, 1 % is ’n freakin’ amazing ding; dat die Here besluit het om haar te seën daarmee. En ek voel geseën dat my dogtertjie gekies is as een van daardie 1 %. Dit voel amper soos bederf.”
Hayley het gesê dit voel nou al so deel van haar dat sy dit eintlik sal mis as dit eendag dalk sou weggaan.
