Trofee in modder gevind 20 jaar na Lydenburg se ‘groot vloed’
Kort voor die 20ste herdenking van die ergste vloed in die geskiedenis van die dorp, op 11 Desember 2001, het 'n stukkie metaal onlangs hartseer herinneringe ontwaak.
Ook het dit ‘n merkwaardige storie van ‘n merkwaardige vrou meegebring. Jong Karen Coetzee (9) en haar broer Zach speel gereed langs die Sterkspruitrivier wat aan die Aqua Terra Gastehuis grens. Die betrokke dag, Woensdag 7 Julie, het sy en haar pa Ernst langs die rivier gaan stap. Sy het iets in die rivierbank gewaar. Dit was die deksel van ‘n ou trofee. Die trofee self is nog vermis, maar gelukkig het al die inligting op die deksel gestaan.
Lees ook: Vragmotorkapings neem kommerwekkend toe
“Na die twee vloede hierdie jaar het die rivierbank baie verander en ons vermoed dit het losgespoel,” het Charlene Coetzee gesê. Sy en Ernst is die eienaars van Aqua Terra Gastehuis. Karen se fonds is op Facebook gedeel en gou het Maritha Kruger die trofee geëien. Sy vertel die verhaal hier. Met die vloed in 2001 is vier van hul familielede oorlede; onder meer haar skoonsuster, Petro Kruger, en haar vier maande oue kleindogter, Marinette McCarthy. Marinette is die Sondag voor haar dood by die Hervormde Kerk gedoop, waar Petro die orreliste was. Marinette se ma, Jeanette Kruger-Hibbens, het saam met die dorp op ‘n wonderwerk gebid, dat haar baba lewend gevind sou word. Maar haar lykie is die volgende dag naby die Laramie Spur in ‘n lae tak gevind.

Riaan (7) en Dewaldt (9) de Witt, het die vakansie by hul ouma Petro kom kuier, en is ook oorlede. Die trofee het behoort aan Janetta Kruger (née Coertze), die ouma van Frikkie Kruger, Maritha se man. Dit was deel van die huis wat met die vloed verwoes is. Janetta is in 1910 in Livingstone, Zimbabwe, gebore. Dit was destyds bekend as Noord-Rhodesië. “Ouma Janette se ma is, toe sy al baie ouer was, met ‘n ou wewenaar getroud, en hulle het net een kind gehad. Haar ma het haar laat onderwys studeer aan die Potchefstroom Onderwyskollege (die ou ‘Pote’). Dit was bykans ongekend vir ‘n dogter om in die vroeë 1930’s reeds te studeer. Haar ma het selfs na Janetta se studies vir haar ‘n motor gekoop, nog ‘n eerste vir die familie. Sy het 40 jaar by Laerskool Witpoort skoolgehou,” het Maritha vertel.

Die trofee het sy in 1933 gewen vir ‘n dubbelspel in tennis op kollege. “Na die vloed het mense ons gereeld laat weet van huisraad wat langs die rivier opgetel is, selfs halfpad Burgersfort toe en in Mashishing. Met die vloed is Petro se huis binne ‘n oogwink deur die wal water platgevee. ‘n Man wat afgekyk het op die huis, het gesê hy het gehoor die honde blaf en ‘n wal water so hoog soos die lamppaal langs die huis, het dit plategevee. Hy het sy oë geknip en die huis was weg,” het sy vertel. Die familie het later besef die treinbrug het die water gekeer en dis hoekom die dorp nie soveel skade gekry het nie. Daar is wel 64 huise in die vloed beskadig en ‘n vrou wat in die Uitspankaravaanpark gebly het, is ook oorlede, asook ‘n man van Mashishing.


