Kliphard kykNET Konsert laat feesgangers behoorlik dans
Groot name in die Afrikaanse musiekbedryf, onder andere Spoegwolf, Francois van Coke en Robbie Wessels, het vir goeie musiek by die Bietjie-bietjie-Bos-fees gesorg.

Die feesgangers kon uiteindelik op Vrydag 3 Desember weer ’n smakie kry van die jaarlikse Innibos-fees toe die Kliphard kykNET Konsert met talle topkunstenaars mense van oraloor met lewendige musiek vermaak het.

Die rugbyveld by Hoërskool Bergvlam is weer in ’n feesterrein omskep en mense het in groot getalle dié konsert, wat deel is van vanjaar se Bietjie-bietjie-Bos-fees, bygewoon.
LEES OOK: ’n Fees van boeke en sang by Bietjie-bietjie-Bos
Die kunstenaars op die verhoog te sien het 0260, Coenie Naudé, Robbie Wessels, Elandré Schwartz, Francois van Coke en Spoegwolf ingesluit.

Die gehoor was beslis nie teleurgestel nie en die konsert was oudergewoonte van top gehalte, met goeie klank en beligting. Die kunstenaars het almal van hul grootste treffers gespeel en die gehoor het heerlik gedans en luidkeels saamgesing.
Een van die hoogtepunte was toe Francois van Coke en Spoegwolf hul gewilde treffer, “Dagdrome in Suburbia,” saam op die verhoog gesing het.

Buiten vir die vermaak was daar talle stalletjies wat smullekker eetgoed en ander produkte verkoop het.
LEES OOK: FOTO’S: Innibos Kuns-in-beweging-parade

Op Saterdag 4 Desember is dit tyd vir die kykNET Bietjie-bietjie-Bos Konsert. Hier sal Karlien van Jaarsveld, Snotkop, Bok van Blerk, Rooksein, Pieter Koen en Anne-Mari op die verhoog te sien wees. Karen Zoid sou aanvanklik ook optree, maar weens gesondheidsredes is haar optrede gekanselleer. Bok van Blerk staan vir haar in.










