Boer Dèan vra sy Megan se hand in Namibië Namibië
Die trouklokke lui binnekort vir twee oudinwoners wat mekaar op die gewilde maatsoekprogram, Boer Soek 'n Vrou, ontmoet het.
Dèan Botma (30), ‘n macadamiaboer van Mbombela wat onlangs na George verhuis het, en Megan Wille (24) het op 29 Desember 2021 tussen die sand en duine van Namibië verloof geraak het.
“Ons het in Swakopmund vakansie gehou. Ons het na die sonsondergang op die duine saam met twee van ons vriende gaan kyk,” vertel Botma van die dag waarop hy Wille gevra het om te trou.
Op die foto’s wat die paartjie op hul sosiale media gedeel het, straal albei en glimlag breed terwyl hulle ‘n glas vonkelwyn klink, Wille met ‘n pragtige ring aan haar vinger.

Volgens Botma het Wille nie veel verwag nie en was sy geskok toe hy die groot vraag gevra het. “Sy het begin huil en het gebewe.”
Hy het spesiaal tot die einde van hul vakansie gewag om haar te vra om te trou, juis omdat sy vermoed het dat iets aan die begin daarvan sou gebeur het.
“Ek het aan die begin van September daaraan gedink om haar te vra en toe stadigaan die ring laat maak. In die middel van November het ek die ring gekry en toe gewag vir die regte tyd om dit te doen. Ek wou haar graag in Namibië vra,” sê Botma.
Haar groot opoffering om saam met hom George toe te trek, was die finale teken dat Wille sy trouvrou is.
Die paartjie het mekaar op seisoen 13 van kykNET se Boer Soek ‘n Vrou ontmoet. Aanvanklik het Botma vir Wille huis toe gestuur nadat sy een van die vroue was wat hy gekies het om op sy plaas te gaan kuier.
LEES OOK: Ervaar die Onderberg met dié Facebook-blad
Ná die program het die twee se paaie weer gekruis toe Botma haar vir ‘n koffieafspraak genooi het.

“Ons het tydens die verfilming van die program eintlik so min tyd gehad om mekaar te leer ken en dit was moeilik voor die klomp kameras. Ek het nie met enige intensies saam met haar gaan koffie drink nie, dit was om haar beter te leer ken en om op ‘n manier vir haar jammer te sê dat sy die eerste een was wat huis toe gestuur is. Ek wou graag my kant van die storie aan haar stel.”
Die paartjie is albei oudleerders van Hoërskool Nelspruit, alhoewel hulle mekaar nooit op skool geken het nie omdat Wille ‘n paar jaar jonger is.
Botma en sy ouers het onlangs ‘n macadamiaplaas in George gekoop waar hy nou woon. Wille het ook ‘n paar maande ná hom George toe getrek, waar die paartjie nou nes skrop. Wille, ‘n balletonderwyser, het onlangs haar eie dansskool daar geopen.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
