Drie universiteite kry elkeen ‘n derde aandeel in NHS-drieling
As mens kyk na hoe hard hierdie drie NHS-boeties tot dusver gewerk het, behoort daar geen twyfel te bestaan van die sukses wat hulle in hul onderneming en studies sal behaal nie.
Drie broers, drie verskillende universiteite en ‘n onbeskryflike gevoel van opgewondenheid vir dit wat voorlê.
Die Erasmus-drieling, Franco, Janu en Wentzel, was nog nooit vir langer as ‘n week weg van mekaar af nie, maar met hulle universiteitslewe wat nou wink, gaan hulle mekaar waarskynlik eers weer in Junie sien.
Dié drie is vir seker ‘n deel van Hoërskool Nelspruit se trots na die onlangse matriekuitslae. Snaaks genoeg gaan hul volgorde van geboorte, lengte en punte so saam-saam.

Franco is die langste, die oudste en spog ook met die meeste onderskeidings – sewe. Hy is op 31 Januarie op pad na die Universiteit van Pretoria om aktuariële wetenskap te gaan swot.
Wentzel het laaste die wêreld ingekom, is die kortste en het vir homself vyf onderskeidings ingepalm. Potchefstroom gaan hom op 7 Februarie verwelkom waar hy rekeningkunde gaan studeer.
LEES OOK: Dis weer interhoërjaar by Nellies!
En mooi in die middel is Janu. Hy meld reeds Sondag by die Universiteit van Kaapstad aan om medies te studeer. Hy het ses onderskeidings agter sy naam. Hy sê hulle het baie gebid vir dié keuring en hy het hard gewerk daarvoor. “Ek glo ons gebede is verhoor.”
Met hulle skitterende prestasies was daar die afgelope jaar maar min vrye tyd. Om van hulle kant af met die finansies te help om universiteit toe gaan, het hulle besluit om ‘n klein onderneming te begin. En nie met wat nie, ‘n reeks brandrissiesouse genaamd Triple Chill.
Janu erken dat hulle nie ‘n reuseduik in die universiteitsrekening kon maak nie, maar daar was darem genoeg om koshuisgoed en klere te koop asook om die deposito’s te betaal. Dit is ook nie die einde van die sous se bestaan nie.
“Ons gaan beslis aan met die sous. Ons wil hierdie jaar nog verder uitbrei, aangesien ons na drie verskillende universiteite toe gaan. Ons het reeds twee mense wat vir ons werk.”
As mens kyk na hoe hard hulle tot dusver gewerk het, behoort daar geen twyfel te bestaan van die sukses wat hulle in hul onderneming en studies sal behaal nie.
“Daar was niks vrye tyd vir ons nie. If you fail to plan, you plan to fail!
LEES OOK: Vet pret by interhuis vir Komati Akademie
“Ons het elke dag rondom vaste studietye en besigheidstye beplan. Vrydae en Saterdae was ons onder andere met promosiewerk en bemarking besig. Omdat ons drie is, was dit gerieflik om die take tussen ons te verdeel.
“Laatslapery was daar ook nie. Ons het reeds 05:00 opgestaan om alles te doen wat ons moet.”
Vir die gevoel oor die toekoms, het hulle amper geen woorde nie. “Dit is amper soos om vir iemand wat nie smaak het nie, te verduidelik hoe ‘n tjoklit proe.”
Hulle gaan nou wel nie almal saam wees nie, maar sien hierdie as net nog ‘n uitdaging en ook ‘n geleentheid om hul onderneming uit te brei.
“Ons sêding is: Opgee is nie ‘n opsie nie!
“Ons het ook ‘n reusedankbaarheid teenoor ons ouers wat altyd bankvas agter ons gestaan het, ons ondersteun het en in ons geglo het met wat ook al ons aanpak.”
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
