Sien sy hart, dis g’n sosialemediafoefie
Dis nou al meer as 50 slaggate later, en 'n inwoner van die stad staan nog sterk in sy stryd teen beskadigde strate.

Sedert 15 Januarie en met sy eie toerusting en fondse, het Zirk Spruyt van die slaggate in die stad begin herstel. Van die strate waar jy hom dalk in die vroeë oggendure kon teëkom, is Johanna- en Dr Enos Mabuzarylaan en Ferreira-, Murray-, Ehmke- en Piet Retiefstraat.

Soos dit dikwels met sosiale media gaan, het die woord oor hierdie man se doen en late vinnig versprei, en kort voor lank het hy so ‘n paar helpers gehad wat óf hand bygesit het óf geld bygedra het.

Spruyt sê egter dit was glad nie sy plan om soveel aandag op die situasie te vestig nie. “Ek is immers nie ‘n padbouer nie. Ek het maar net eendag besluit, oukei, tot hier toe en nie verder nie, ek gaan nou maar self ‘n paar goedjies uitsorteer.”

Een van die eerste kere toe sy padwerkvernuf op Facebook gedeel is, was dit sy vriend, Marius Nel, wat die wêreld daarop bedag gemaak het. In sy plasing het Nel gesê: “Hierdie is ‘n vriend wat nie op hom laat wag nie. Hy kerm ook nie sommer saam om ‘n braaivleisvuur nie. Hy laat dinge gebeur, al moet hy dit self doen.”

LEES OOK: Skukuza-aap byt vrou
Van daar af sê Spruyt het ‘n klompie mense een oggend kom help. “Ek het nou maar vir hulle gewys wat ek doen.” Ander oggende was daar weer een of twee persone en Woensdagoggend het daar selfs ‘n paar Pumasspelers ingespring.

“Ek het een Saterdagoggend my eie laaitie (Divan) gevat dat hy ‘n bietjie uit die vere kon kom, en hy het saam met my so ‘n klompie gaan regmaak. En so gaan ek nou maar aan.
“Elke oggend, as dit nou nie reën nie, gaan doen ek maar ‘n paar, en partykeer is daar iemand by. Marius het nou al ‘n paar oggende saam met my gekom; hy is nou seker my span.”

Met die geld wat geskenk word en winkels wat bereid is om van die materiaal teen kosprys aan hom te verkoop, kan hy daarvan aan die ander mense uitdeel wat graag wil werk.
LEES OOK: Noodbuikoperasie lei tot verdere komplikasies
“Op hierdie stadium is dit wonderlik vir die ouens wat help en ‘n paar rand verdien sodat ‘n ou meer goedjies kan doen, maar eintlik is my motivering nie om ouens te kry om spanne te maak en vir ewig slaggate reg te maak nie.

“Ek wil eintlik maar net op my eie aangaan en wanneer ek dink ek is daar, gaan ek ophou, tot ek weer voel dit is ‘n groot genoeg probleem om weer aan te pak.
“Die grootste ding vir my is dat jy my hart sal sien. Die idee is nie ‘n reklameveldtog of ‘n enorme gedoente nie. Dit was vir my heeltemal lekker genoeg toe ek dit net op my eie gedoen het en niemand rêrig daaroor geworry het nie.”


Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram