IN FOTO’S: ‘n Vloed van pret en plesier op die Sabierivier
Of jy nou omgetiep het of soos 'n gesoute riviervaarder bo-op jou vaartuig gebly het, het die Sabie-binnebandresies gesorg vir golwe van vermaak binne én buite die water.

Na twee jaar se gewag het die Sabie-binnebandresies uiteindelik na die Sabierivier teruggekeer, en avonturiers het nie op hulle laat wag nie. Die naweekkaartjies was sommer vinnig uitverkoop en hordes dagbesoekers het Saterdag met hulle binnebande (of basies enigiets wat kon dryf) aangemeld.

Om te verseker dat die pret wel pret bly en nie in tragedie verander nie, was die polisieduikeenheid ook daar om ‘n ogie te hou oor die vrolike skare. Buiten hierdie maatreël, kon jy konstant die organiseerderspan op hul vierwielmotorfietse sien op en af ry om ook van hulle kant af orde te handhaaf.

Met alle sisteme in plek het die eerste groep tussen 08:00 en 09:00 op Saterdag hulle ongeveer 45 minuut lange reis met die rivier af aangedurf.

Daar is ook min plekke waar jy dié vlak van innovering sal sien, van mense wat graag ten alle koste hulle selfone, bier en sigarette saam op die rivier wil neem. Of dit nou ‘n vyfliterbottel, ‘n rugsak of ‘n waterdigte sakkie was, saam was die goed saam.

‘n Paar vaartuie (en amper boude en waarskynlik brille) het natuurlik ook in die slag gebly; klippe, takke en plante was ‘n onvermydelike deel van die avontuur.

Selfs sonder die riviervaart was daar hope ander vermaak in die vorm van Francois van Coke, Spoegwolf, Van Pletzen en meer.

Dié optredes het in die biertent plaasgevind met die skare wat die kunstenaars en hul mikrofone behoorlik opdraande gegee het.

LEES OOK: Karnivoorspesialis sê Marlothparkers moet bedag wees op leeus
Plaaslike stalletjies het ook die feesgangers van voedsel voorsien.

Die organiseerder, JL Coetzee, het aan die einde van die naweek vir almal ‘n eenvoudige bedanking gehad. “Ek wil net dankie sê vir almal, helpers en bywoners; dit was epic.”













































Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
