Hoërskool Rob Ferreira deel hul ontstaan
Hoërskool Rob Ferreira het soos ‘n loot uit die ou Laerskool Witrivier gegroei wat in 1948 van status na ‘n junior hoërskool verander het. So het die skool in 1995 tot ‘n selfstandige hoërskool gegroei met mnr. P.H. Kat as die waarnemende hoof.

Die skoolgebou is in 1954 voltooi en die koshuis in 1959.
Mnr. Rob Ferreira:

Die skool is na wyle mnr. Rob Ferreira vernoem, die destydse LUR in die ou Transvaalse provinsiale regering. Oom Rob, soos hy algemeen bekend gestaan het, was ‘n gemeenskapsmens wat hom beywer het om fasiliteite vir die gemeenskap daar te stel. Deur sy visie en bemiddeling het Hoërskool Rob Ferreira tot stand gekom.
Die grond waarop die skoolgebou, die sportterrein en die koshuis tans staan, was destyds deel van ‘n plaas wat aan oom Rob behoort het. Hy het 28 hektaar van die plaas afgesny en dit aan die destydse onderwysdepartement geskenk vir die oprigting van die nuwe skool.
Hy sou vandag ‘n trotse man gewees het as hy die pragtige fasiliteite en uitsonderlike prestasies van die Rob-leerlinge kon beleef. Nie net sy kinders en kleinkinders is oudleerlinge van ons skool nie, selfs van sy agterkleinkinders, was ook in hul oupagrootjie se skool!
Die simboliek van ons skoolwapen:
Die skoolkleure soos dit in 1954 saamgestel is, is groen, oranje en wit.
Groen: In die heraldiek simboliseer groen jeug en hoop.
Oranje: Dit simboliseer krag en uithouvermoë.
Wit: Dit simboliseer geloof en reinheid.
Met die simboliek van jeug en hoop, krag en uithouvermoë, geloof en reinheid as basis, is dit logies dat die skool se leuse “Vorentoe!” moet wees.

Die wildevyboom in ons skoolwapen:
Mnr. A.B.J. Kruger ontwerp die skoolwapen en sê: “Dit het onmiddellik ‘n uitgemaakte saak geword dat hierdie ou wildevy ‘n ereplek in die samestelling van die wapen moet kry.”
Die simboliek lê hierin dat die hoërskool uit die laerskool “gegroei” het, net soos die ou wildevy jaarliks groei en groter word.
Verder simboliseer die boom ook die volgende:
• Die boom staan vas en verankerd in eie bodem – so moet Rob Ferreira verankerd in eie bodem bly.
• Soos die boom, so moet ook ons skool groei en vooruitgaan uit die krag geput uit eie bodem.
• Die wildevy lê die karakter van die Laeveld in die wapen vas.

Op Donderdag 23 Oktober 1980 word ‘n oorsig deur mnr. Basie van Wyk tydens die boomplantseremonie gegee. Oom Basie het ‘n tak van die oorspronklike boom afgesaag en dit hier by ons skool kom plant. Die boom is op die grasperk langs die saal in die verste hoek agter die bord wat aandui waar die koshuis is.
Daar waar die busse stilhou en hoe laat die busse van die Super 12 veronderstel is om daar aan te kom. Stap sommer volgende keer bietjie regopper as jy by die boom verbyloop. O, en die oorspronklike boom?… Agter die landdroskantoor, tussen die woonstelblok en die meenthuise, sal jy die boom sien uitsteek.
Hy staan in ‘n privaat erf, maar mooi is hy gewis. Die wildevy is dus nie net die simbool dat die hoërskool uit die laerskool gegroei het nie, maar dit is ook ‘n simbool van inspirasie, krag en groei. Terloops, mnr. I. Zaayman was in gr. 1 toe die oorspronklike boom by die eerste skool naby die stasie geplant is.

Olifantjie:
Sedert Langenhoven se tyd het die olifant die simbool van die “Wonder van Afrikaans” geword. In die vierkant staan ‘n klein replika van ‘n olifant al vir dekades gemonteer. Hierdie olifantjie is ‘n onlogsmaaklike deel van die Rob-tradisie.
Hy verander gereeld van kleur, want hy word gereeld deur die Robbies geverf. Ses van die vorige hoofde het hul bes probeer om hierdie verwery stopgesit te kry. Natuurlik sonder enige sukses. ‘n Paar jaar gelede het mnr. Van Rensburg gesien dat hierdie nie ‘n geveg was wat hy ooit sou wen nie.
Dis ‘n stukkie tradisie by Rob wat nie uitgeroei sou kon word nie. Hy maak toe die verf van die olifant wettig op een voorwaarde: moenie mors nie! Nou word daar nie meer gemors nie, want die verwers kan dit nou helder oordag doen en nie meer skelm in die nag nie en hulle hoef nie meer te vlug as ‘n onderwyser in die nabyheid is nie.
As die olifantjie moes gelewe het, het hy sekerlik ‘n identiteitskrisis beleef. As dit Valentydsdag is, word hy pienk geverf met hartjies op. As die Blou Bulle teen die Leeus speel, is hy die een dag blou en die volgende dag rooi en wit. En so gaan dit aan en aan.. maar een ding is seker: sy bloed is beslis oranje!

Terrein en geboue:
By Hoërskool Rob Ferreira spog ons met ‘n ongelooflike mooi en netjiese terrein. Ons het die Dries Burger-klubhuis en Studentesentrum wat vir onthaalareas gebruik word. Die studentesentrum is gedurende die dag vir die leerders beskikbaar. Ons beskik ook oor drie rugbyvelde, vier hokkievelde, agt netbalbane, twee krieketvelde, vier tennisbane, ‘n swembad, gimnasium en vanaf 2015 spog ons ook met ‘n Functional Fitness-gimnasium.

Rob Ferreira Lugfoto’s / Aerial photos

Dries Burger-Klubhuis / Dries Burger Clubhouse

Sportterrein / Sports fields

Studentesentrum / Student centre

Gimnasium / Gymnasium

