Laerskool Witrivier vanjaar se trotse aanbieder van die Goldwagen Interlaer 2022
Die afwagting en opgewondenheid heers onder atlete en ondersteuners wat uiteindelik weer bymekaar kan kom om ‘n dag se vriendskaplike atletiek en gees te geniet, ná al die inperkings.


Die interlaer is voorwaar ‘n hoogtepunt op ons skoolkalenders, waartydens talente en sportontwikkeling te sien is. Die volgende laerskole ding Saterdag, 19 Februarie op Hoërskool Rob Ferreira se sportterrein op Witrivier mee: Laerskool Witrivier, Laerskool Barberton, Laerskool Bergland, Laerskool Laeveld, Laerskool Lydenburg, Laerskool Nelspruit en Nelspruit Primary.

Laerskool Witrivier het laas in 2014 die voorreg gehad om die Prestige Laerskolekampioenskap aan te bied. Me. Marianne Oosthuizen, die waarnemende hoof van Laerskool Witrivier, vertel dat die laerskole uitgehonger is vir die geleentheid om spogatletiek te aanskou en weer as ‘n skoolgemeenskap bymekaar te kan kom vir ‘n heerlike dag.

Die dag word geopen deur die skole-optogte om 07:20, met die eerste items om 08:00. Die prysuitdelings sal om 15:45 plaasvind en word gevolg deur die onderwysersaflosse, wat altyd vir baie opwinding sorg. ‘n Beperkte aantal kaartjies vir die interlaer is beskikbaar by deelnemende skole.

Parkering op Hoërskool Rob Ferreira se B- en C-veld vanaf Norwinstraat, Witrivier. DigiTV saai die sportdag uit – gebruik hierdie skakel: DigiTV Link – wrtv.co.za

Laerskool Witrivier bedank al die borge wat die dag moontlik maak, opreg. Baie dankie aan Hoërskool Rob Ferreira vir die gebruik van sy pragfasiliteite.

Vir nog informasie
Skakel ons
Stuur vir ons ‘n epos
Besoek ons webtuiste
Kyk ons Facebook blad

