Wees gereed vir vanjaar se Laeveld Vriendskaplike Interhoër by NHS
NHS bied met groot eer dié Saterdag vanjaar se Laeveld Vriendskaplike Interhoër aan. Na die uitdagende tye toe talle sportgebeure weens Covid in die slag gebly het, is vanjaar se interhoër gewis iets om na uit te sien.

Die atlete is uitgehonger om na harde voorbereiding vir die dag, uiteindelik deel te kan neem. Die sewe skole wat hierdie jaar gaan deelneem, is Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Bergvlam, Lowveld High School, Hoërskool Rob Ferreira, Barberton High School, Penryn College en Hoërskool Lydenburg.
Soos algemeen bekend, moet daar natuurlik aan streng Covid-regulasies en spesiale beperkings gehoor gegee word. Die vergunning van 2 000 mense by enige buitelugbyeenkoms, laat dit toe dat vanjaar s’n in ‘n veel groter mate as in die verlede op leerlingbetrokkenheid gefokus sal wees. Die kinders wat deur die afgelope seisoene se inperkings moes stoei, sal eerste voorkeur kry.
LEES OOK: Twee koeëlpunte laat inwoners kopkrap
Die aantal deelnemende atlete is ongeveer 1 000, met die gevolg dat slegs ‘n beperkte aantal sitplekke per skool (vir leerlingtoeskouers) beskikbaar sal wees. Die goeie nuus is dat die ouergemeenskappe en ander ondersteuners van die verskillende skole al die aksie virtueel sal kan volg! Die BUCO Laeveld Vriendskaplike Interhoër sal regstreeks op die SuperSport Schools-toep, in samewerking met Nashua, gebeeldsend word. Besoek www.supersportschools.co.za om te registreer, en klik Saterdag op die “live”-knoppie om al die aksie te volg.
Die byeenkoms skop vroeg om 06:45 af met die atlete se opkoms.
Hier is ‘n paar atlete om dop te hou:
• NHS: Die skool se bekende “hekkiestweeling”, Handré van der Merwe en Marco Capazorio, wat deur die jare soveel vreugde met hulle onvergeetlike wedlope besorg het, is vanjaar in matriek. Beide het Saterdag tydens die Twizza-byeenkoms in hul onderskeie uitdunne geskitter. Hulle is uiteindelik onder die top vyf in die 110 m- en 400 m-hekkies geplaas, en het ook elk vir twee prestasies bo 800 punte op die ASA-tabel gesorg.
LEES OOK: Cobie is Afrika se driekampkampioen
Ashley Erasmus (d. 17) is die beste tot op datum, wêreldwyd, met haar 18,65 m-afstand in gewigstoot, en moet ook nie haar skyfwerpitem misloop nie. Nog ‘n atleet wat baie beslis ook spesiale vermelding verdien, is Sheba Sithole (d. 15). Sy het Saterdag ‘n uitstekende tyd van 2:17.07 gehardloop (906 ASA-punte) en gaan Saterdag beslis ‘n mooi vertoning lewer.
Ander atlete om dop te hou is André Potgieter (s. 19) in 100 m, Vaughn van Zyl (s. 15) in skyfwerp, Shanese de Clerck (d. 17) in verspring en hoogspring, en Simoné Lourens (d. 14) in 300 m-hekkies.
• Rob Ferreira: Dié skool se atlete glo hulle gaan met die naellope die ander skole verras, met Proper Masinga (s. 17) wat die 100 m in 10,54 sek. en die 200 m in 21,9 sek. hardloop.
Philisande Sibiya sal by die 110 m- hekkies en 400 m-hekkies uitstaan. Tumiso Letsoalo (s. 15) is gereed om die 110 m-hekkies en 300 m-hekkies aan te durf. Caitlyn Derman (d. 17) en Danielle Gouws (d. 19) gaan by hoogspring die ander skole uitdaag.
LEES OOK: Laerskool Laeveld se atlete sorg vir groot opwinding
• Lowveld High: Lowveld High se Rasheed Gardee (s. 19) gaan vir seker korte mette van die 400 m en 400 m-hekkies maak. Iza Sithole en Yulin Chabane (s. 19) is gereed om hulle beste voet by die driesprong en verspring voor te sit. Mpilo Nkosi (s. 19) pak verspring en, saam met Mikenzo Khoza, die 100 m en 200 m aan.
Adalph Mogan (s. 17) sal die hoogspring en die 100 m aandurf, en Samkelo Nkosi (s. 17) die 800 m en 1 500 m. Kaleb Bulinga (s. 19) is gereed om vir sy skool te hardloop in die 800 m, 1 500 m en 3 000 m. Sonathemba Mlambo (m. 17) hardloop en spring vir Lowveld High by die 100 m, 200 m, driesprong en verspring.
• Penryn: Die twee veldatlete, Nolizwi Mlangeni en Tlangelani Ndlovu (d. 17), gaan mik om hulle merk in onderskeidelik spiesgooi en verspring te maak. Stephen Taylor (s. 19) het ure lank geoefen aan spiesgooi. Nevale Sibuyi (s. 14) is gereed om die 100 m, 200 m en 400 m voluit te hardloop.
• Hoërskool Lydenburg: Lydenburg se trots is hulle hekkiesatlete. Sumarie Lourens (d. 15) sal die 90 m-hekkies, 300 m-hekkies, 100 m en 200 m aandurf, en Thapelo Moloi (s. 15) die 100 m-hekkies en 100 m. Izak Niermann (s. 15) het ‘n besige dag wat voorlê wanneer hy die 300 m-hekkies, 110 m-hekkies, verspring en hoogspring aanpak.
• Hoërskool Barberton: Vukani Ngwenya (s. 19) en Mavuka Malambe sal vir hulle skool die 100 m, 200 m, 400 m en 400 m-hekkies aanpak. Wees gereed vir Jeandré de Beer (s. 17) se skyfwerp, spiesgooi en gewigstoot. Hou Themba Nyakane (s. 17) dop by die driesprong en verspring, en vir Gift Mathebula (s. 16) by hoogspring en spiesgooi.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
