President Kruger en die akkerboom
Daar word tans weer in Lydenburg bespiegel of ’n geskiedkundige akkerboom in Kantoorstraat 41 in die slag gaan bly.
Die ontwikkelaar wat die huis gesloop het, het aangedui hy weet dat dit ‘n geskiedkundige boom is en dat hy dit nie sal uithaal nie.
Hy het sy argitek gevra om die bouplanne netjies om die boom te trek.
Volgens oorlewering was dit die boom waaronder pres. Paul Kruger in 1890 vergader het. Dit was nege jaar voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog (1899-1901).
Maar in die Lydenburg Nuus van 20 Augustus 1976, het prof. B. V. Lombaard die lesers gemaan dat dit nie daardié akkerboom was nie. Hy het heelwat navorsing gedoen om uit te vind of dit wel die boom was.

Die Lydenburg Museum het die artikel van Lombaard gedeel.
As die boom inderdaad die geskiedkundige akkerboom is, sou dit reeds deur die Nasionale Monumentekommissie tot ‘n nasionale monument verklaar gewees het.
Hier volg prof. Lombaard se berig:
“Daar is stryde getuidenis met die vertroubare geskiedenis rondom die akkerboom waaronder Pres. Paul Kruger blykbaar vergader het 1890. Eerstens het wyle Susie Ruyter aan Sias Combrink vertel dat die bestaande akkerboom te Kantoorstraat 41 nie daardie boom is waaronder Pres. Kruger vergader het nie. Volgens haar het die vergadering plaasgevind onder ‘n groepe akkerbome, wat dieper in die erf van Tom Euverard gestaan het, te Kantoorstraat 39.
Pres. Kruger het op die bankie tussen twee van die bome gestaan terwyl hy gepraat het. Die bome is later deur Con Quinlan verwyder. Tweedens getuig die meegaande foto, wat omstreeks 1903 geneem is op die hoek van Voortrekker- en Kantoorstrate as getuienis. ‘n Watervoor, dwarsoor Kantoorstraat, sowel as een aan elke kant van die straat, is sigbaar. Daar is ook geen twyfel dat die straat afdraande geloop het in die rigting van die twee watervore nie. Effens nader aan die twee verste, lang bloekombome, verskyn ‘n kleiner digte boom, wat moontlik die bestaande akkerboom in sy jeug voorstel. Maar dit is nie die akkerboom in Kantoorstraat 41 nie. Dan is daar ‘n paar bome wat agter die gebou uitsteek. Hulle sigbare krone is nie strydig met die van die akkerbome nie. Omdat ons die storie deur oorlewering glo, is dit al as die waarheid beskou dat Pres. Kruger onder die betrokke akkerboom vergader het. Maar die inligting wat ek besit, strook nie daarmee nie.” (sic)
Die slotsom: Hopelik kan die akkerboom steeds vir die nageslag bewaar word, aangesien die ontwikkelaar die woonstelle rondom dit gebou het. Dit blyk uit prof. Lombaard se navorsing dat die akkerboom onder bespreking wel in 1903 al op die foto te siene is. En dit maak die betrokke boom steeds 118 jaar oud.

