Margherita Peak: Tog so mooi, maar geestelik uitputtend
"Dit help nie ons werk en spaar en werk en spaar nie; jy moet gaan en gaan lewe." So sê 'n plaaslike fiksheidsinstrukteur wat onlangs na Uganda gereis het om die Rwenzori-berge aan te durf.
Om die Mountains of the Moon, oftewel die Rwenzori-berge, te klim, is nie iets waarvoor jy iemand kan motiveer nie – dit sit híér. Só sê Sonell Joubert terwyl sy na haar hart wys.
Joubert is ‘n voormalige professionele jagter en nou ‘n persoonlike fiksheidsinstrukteur, en het op 11 Februarie die trek teen hierdie berge tussen Uganda en die Kongo op begin.

Sy het vir vier jaar lank gespaar aan die geld vir hierdie uittog, en het op een stadium byna nie gegaan nie. “Ek het uitgestel en uitgestel, want dit is nogal baie geld. Ek dink ek was al amper op die punt om dit in my kop af te skryf.”
Toe kom die verlies van haar pa. Hy is verlede September skielik aan Covid-19 oorlede, en dit het die uitstappie weer na vore gebring. “Toe besluit ek, weet jy wat, you gotta live. Dit help nie ons werk en spaar en werk en spaar nie; jy moet gaan en gaan lewe. ‘n Mens weet nie wat met jou gaan gebeur nie.”

En met daardie gedagte het sy met die plaatjie wat saam met haar pa se as gekom het, op ‘n vliegtuig na Uganda geklim. Voor hierdie avontuur het Joubert in 2018 Kilimandjaro geklim en gereken dit was relatief maklik. Rwenzori was egter ‘n totaal ander ervaring.
“Ek kan nie die woord ‘lekker’ gebruik nie. Dit was baie, baie, baie moeilik, en baie erger as wat ek gedink het. Dit was meer bergklimvaardighede as wat ek gedink het.
“Ons het in gumboots geklim wat hulle vir my gegee het. Hulle was baie dun. Ek het drie pare kouse gedra sodat my tone nie vries nie; ek wens hulle het vir my gesê bring gumboots!”

Wat normaalweg ‘n agt dae lange avontuur is, het Joubert in ses klaargemaak, ten spyte van die feit dat haar gidse op dag ses gesê het dit is onmoontlik. Die foto’s wat sy “langs die pad” geneem het, sê sy, laat nie die landskap tot sy reg kom nie. “Jy moes daar wees.”
Dag een begin met ‘n 330 km-rit van tussen vyf en ses uur. Dag twee is waar die klim begin het. Die verskil in hoogte tussen die eerste en die tweede hut is 2 652 m.

Van daar raak dit net meer. Dag drie is dit ‘n 3 414 m-klim, dag vier 3 962 m, dag vyf is 4 541 m en die laaste dag, wanneer jy die kruin bereik, is dit 5 109 m.
Joubert sê dit is ongelooflik hoe die landskap oor die verskillende dae verander. Dit blyk uit haar foto’s ook. Een oomblik lyk dit soos ‘n oerwoud, dan is dit ‘n moeras (dis waar die rubberstewels handig te pas kom). Hoe hoër jy klim, hoe meer klipperig raak dit. Hier en daar klim ‘n mens selfs oor gletsers.
LEES OOK: Twee vroue se hande staan vir niks verkeerd
Sy sê hierdie is nie sommer net enige hike nie. “Dit is rugged edges en klim en klouter.” Op baie plekke is jy met toue aan jou gidse vasgemaak; een klim bo jou en die ander onder jou.

Wanneer jy by die gletsers uitkom, moet jy spesiale stewels met ysspore, skerp staaltande waarmee jy stewig in die ys kan vastrap.
Dit was op plekke so koud soos -20 ºC. Joubert sê sy kon op ‘n stadium stukke van haar hare afbreek soos dit geys het. Alhoewel dit ‘n verligting was om uiteindelik die kruin van Margherita Peak te bereik, was dit so mistig dat sy niks kon sien nie. En die verligting is vinnig vervang met die wete van wat nog op die pad na onder voorgelê het.

Sy het ook byna vergeet om haar pa se plaatjie daar te los, en moes weer tot by die kruin klim. “En die Ugandese verstaan nie Engels nie, en ek sê net: ‘My father, my father,’ maar hulle kan nie verstaan hoekom klouter hierdie girl weer teen hierdie berg uit nie.”
Net daar het sy besluit sy het nou genoeg gehad, en haar gidse laat verstaan hulle sal die laaste oornaghut oorslaan en direk teruggaan na heel onder.
“Ek het nie gedink ek sal ooit Everest kan doen nie, maar na hierdie…”



















Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
