Local news

Bekende Nelspruit-sakeman uiteindelik bevry van alkoholisme se greep

Hein Venter maak oop oor sy stryd met alkohol, en hoe hy daarin kon slaag om die bottel heeltemal te los.

MBOMBELA – “Meeste dink alkoholiste is mense wat elke dag die heeldag drink. Ek ken alkoholiste wat net een maal per maand drink. Maar daardie een keer slaan hy sy vrou, skop hy sy hond en skryf hy sy kar af. Dit klink vir my soos ‘n probleem.”

Só vertel Hein Venter aan Laevelder na ‘n bekentenis op sosiale media wat selfs ligte drinkers met stof tot nadenke gelaat het. Dis nou presies een jaar vandat hy die bottel heeltemal gelos het.

Dit was cool gewees,” sê hy, en voeg by dat dit alles as ‘n tydverdryf begin het. Namate hy ouer geword het, het dit egter ‘n manier geword om van die alledaagse te ontsnap. “Dis seker waar die verslawing regtig begin – wanneer dit ‘n hanteringsmeganisme word en jy later nie meer lus is om die spannings van die lewe te wil voel nie. As jy weet jy kan enige gevoelens wegdrink, word jy heeltemal te lui om deur enigiets te werk – jy drink dit net weg. Dis ongelukkig ‘n sneeubaleffek, want hoe meer jy drink, hoe morsiger word jou lewe, en hoe meer morsig jou lewe is, hoe meer emosies het jy wat jy moet wegdrink.”

Toe hy sy oë uitvee, was hy een van Mbombela se brekers en sou hy nie skroom om in gevegte betrokke te raak nie. In hierdie hoofstuk van sy lewe het hy karre afgeskryf en verskeie werke verloor, en as gevolg daarvan, was hy ook permanent in finansiële verknorsing. Hy het ook meer begin drink, en op 34 het hy niks oorgehad nie.

Hy het by sy ouers gebly, sy bakkie was afgeskryf en die versekering het geweier om uit te betaal. Wanneer hy in tye soos dié sy allerlaagste bereik het, het hy as uitsmyter by uithangplekke in die stad gewerk – eers tydelik, en toe uit desperaatheid voltyds.

Later was hy die bestuurder by Déjà Vu, waar hy ‘n klein daaglikse loon, waarvan ‘n gedeelte aan drank spandeer is, verdien het. “Die teleurstelling in myself was groot en die drank het gehelp. Ek wou beter wees, maar ek het nie geweet waar om te begin nie, en omdat ek myself uit verhoudings gedrink het, was ek bitter eensaam.”
Dit is eers toe Michelle, nou sy vrou, in die prentjie kom, toe Venter lig aan die einde van die tonnel begin sien het.

“Clinton Cosmo het die groot kans gevat om my ‘n geleentheid in die motorindustrie by Westvaal te gee. Met geweldige genade van Bo het ek dit reggekry om van die geleentheid ‘n wegholsukses te maak, en ek wou net nie weer ‘n goeie geleentheid opmors nie. Sonder dat ek dit besef het, was dit die begin van die einde van my verslawing – alhoewel dit nog ‘n hele paar jaar sou wees voor ek dit finaal afgelê het,” het hy gesê.

“Ek het gedink ek moet net minder drink. Ek het met alle goeie intensies op aarde uitgegaan om net ‘n paar biere saam met die boys te gaan drink. Vyfuur die volgende oggend slaap al die manne en ek sit nog steeds op die stoep en drink. Dit is nog een van die wanpersepsies daar buite. ‘n Alkoholis gaan nóóít ‘normaal’ kan drink nie. Dis alles of niks. Maar ek het aangehou om vir myself daaroor te lieg.

“My ander groot fout was om te dink ek gaan na al my ou watergate toe gaan en net alkoholvrye bier of selfs koeldrank drink. Kort voor lank dan draai iemand jou arm om maar ‘n ietsie te drink. Ek dink ek het meeste van die tyd maar my eie arm gedraai. Só het ek op- en afgegaan, en vir ‘n lang tyd beter en slegter gevaar. Die skade aan my verhouding met Michelle was besig om sy tol te eis, en die tentakels van die probleem het stadig sy pad na my beroep toe begin werk.
“Om suksesvol te drink moet ‘n mens baie lieg, verskonings uitdink, mense manupileer en dié naaste aan jou blameer vir jou eie foute. My vrou was baie geduldig en het my baie ondersteun, maar die spanning en wantroue het haar opgevreet.”

Ondanks haar ondersteuning, het hy haar as die rede waarom hy drink vir ander mense voorgehou. By haar het hy weer ander verskonings gebruik – of haar probeer oorreed om saam te kuier. Leuens en manupilasie was aan die orde van die dag. Daar is min mense so kreatief soos ‘n alkoholis wat wil gaan drink. Ek het ongelukig, of gelukkig, ‘n baie slim vrou getrou, so sy het die meeste van die tyd regdeur my planne gesien.”

Hein Venter, nou ‘n familieman, saam met Dwayne en Riley.

Toe sy swanger word met hulle dogtertjie, wat nou nege maande oud is, was Michelle gereed om harde besluite te maak om haarself, hulle seuns (Dwayne en Riley uit haar vorige huwelik) en die baba te beskerm. So het hy die laaste keer wat hy gedrink het weer eens ‘n laagtepunt bereik.

Iets waaroor hy moeilik praat – toe hy sy swanger vrou alleen in die hospitaal met ‘n dreigende miskraam gelos het omdat hy liewer wou drink. “Ek sal in my graf in gaan met ‘n oorweldigende skuldgevoel en skaamte hieroor. Dis selfs vir my moeilik om dit hier te noem. Die dag ná daardie voorval het ek besluit genoeg is genoeg.”

Nog ‘n lig het aan die einde van sy tonnel van verslawing opgehelder – Erla Coetzee, ‘n verslawingsterapeut. Hy kon met haar hulp op 26 September 2021 finaal daardie lewe agter hom sit. “Ek moes alles wat daarmee saamgaan, groet, my rug draai en wegstap. Ek moes kuierplekke waar ek vir jare lank deel van die meubels was, groet. Dit ten spyte daarvan dat die plekke aan boesemvriende behoort. Ek moes vriende groet en gewoontes afleer. Ek moes regtig vrede kry oor Saterdagmiddae se Springbok-rugby sonder ‘n bier in die hand en Nuwejaarsaand ‘Auld Lang Syne’ sing sonder ‘n tjortsie op die nuwe jaar. Oor al hierdie dinge moes ek werklike vrede gaan maak,” vertel hy.

Laevelder het Venter verdere vrae gevra, waarop hy só geantwoord het:

• Hoekom het jy op 17 begin drink? Groepsdruk? Kom jy uit ‘n ouerhuis waar alkohol algemeen gebruik en/of misbruik is?
My ma-hulle het ons toegelaat om ‘n ligte bier of so te drink wanneer die familie braai, en stadig maar seker het ons harder hout saam met skoolpelle begin gebruik. Drank was algemeen in my ouerhuis en ons was nooit spesifiek daarvan weggehou nie. My ouers is geskei toe ek klein was, en my ma-hulle het matig gedrink en wou ons ook so leer, maar my pa was ‘n man wat bekend was as ‘n strawwe drinker.

• 
Was daar vorige pogings om op te hou drink wat nie geslaag het nie? Wat was die langste wat jy “skoon” was voor hierdie mylpaal van ‘n jaar?
Ek kon aan die einde dit langer begin regkry, elke keer aanhou die demoon wen, elke keer met Erla werk om beter te wees. Die langste wat ek voorheen kon uithou was vier maande, maar dit het net een keer gebeur.

• Daar is deesdae baie en diep gesprekke tussen gesondheidskenners oor alkoholverslawing. Party wil wegbeweeg van die begrip “alkoholisme”. Party sê dis ‘n siekte, ander nie. Hoe sou jy dit definieer? Wanneer sou jy sê het iemand ‘n probleem?
Kom ek begin deur te sê dat alkoholisme en verslawing nie ‘n skande is nie. Dit is vir seker ‘n siekte in die sin dat daar ‘n paar definitiewe breinsamestellings is wat saamwerk om jou ‘n verslaafde te maak. Ek glo ook vas dat jy dit slegs met mediese en professionele hulp onder beheer kan kry, soos meeste ander siektes. Daar is hopeloos te veel mense wat dink hulle kan dit self doen. Jy kan nie. Ek het saam met ‘n ongelooflike terapeut, Erla Coetzee, gewerk. Sy het my die dokumentêr Pleasure Unwoven laat kyk, en dit het my baie gehelp om die siekte te verstaan en hoe die brein voor, tydens en ná ‘n drinksessie werk.
Jy het ‘n probleem wanneer dit enige aspek van jou lewe negatief affekteer – finansieel, sosiaal, verhoudings, ens.

• Beskryf asseblief die pad sedert ‘n jaar gelede tot nou? Het jy onttrekkingsimptome gekry? Het jy alkohol met mediese hulp gelos?

Ek was baie gelukkig dat ek nie onttrekkings gehad het nie. My rock bottom het gebeur nadat ek reeds vir ‘n lang rukkie “skoon” was. Ek het ‘n uiters goeie terapeut gesien, wat jare se ondervinding in die rehabilitasie van verslaafdes het. My dokter het my ook op ‘n antidepressant gesit. Verder het ek my kop verander. Ek het nooit meer daaraan gedink, “Nou kan ek nie meer drink nie,” maar liewer aan die ongelooflike lekker goed wat ek wel kan doen. Ons gaan gereeld weg vir naweke, spandeer tyd saam, geniet die seuns se tienerstreke en beleef hoe ons dogtertjie grootword.

• Wat was die reaksie van familie en vriende toe hulle sien jy los die alkohol?
Almal se reaksies was anders. Baie mense was al moeg vir my stop/start-drinkery, so baie mense wou maar eers sien voor hulle glo. Meeste mense is bly vir jou, maar daar is diegene wat steeds glo ek het nie regtig ‘n probleem nie – seker omdat dit beteken hulle het ook een en is nog nie gereed om dit face nie. Dis soms dié wat jy die graagste wil trotsmaak wat ‘n blinde oog draai vir wat jy bereik het. As jy gaan kyk na die ongelooflike reaksie op my Facebook-post, kan ek vir seker net dankbaar wees vir die ondersteuning wat ek kry. Mense het selfs uitgereik met hulle eie probleme met verslawing, en dan wonder ‘n mens of dit nie alles so moes gebeur het sodat jy weer die volgende ou kan help nie.

• Het jy sedertdien vriende verloor of is hulle meestal ondersteunend?
Nee, ek het geen ware vriende verloor nie. Dié wat ek verloor het, besef mens later, was eintlik net drinkebroers, elders is hulle nêrens te vinde nie. ‘n Mens sien wel van jou beter vriende minder omdat hulle op plekke kuier waar jy nie meer wil gaan nie, en ek het respek daarvoor. My verslawing hoef nie ander te affekteer nie. Die verrassing was egter die ou skoolvriende en vae kennisse wat nou weer hulle pad in jou vriendekring in vind juis omdat jy is wie jy nou is.

• Moet jy nou sekere mense en/of plekke vermy omdat dit net te groot ‘n versoeking is vir jou om moontlik weer te drink?
Inderdaad ja. Ek is elke dag en elke uur bewus van triggers, en dit sal so aanhou. Dit is weer eens hoekom ‘n mens ‘n goeie terapeut moet sien. Erla het my geleer om myself as alkoholis te ken, so ek weet wat is potensiële slaggate. Ons beoefen ‘n tipe van ‘n zero tolerance approach – dit maak nie saak wie verjaar, wat die geleentheid is of hoe graag ons êrens wil heengaan nie. As ek nie daaroor reg voel nie, gaan ons nie, en ander se reaksies daarop is nie balangrik nie. Die meeste vriende en familie verstaan dit darem.

• Sedert 26 September verlede jaar, het jy al gevoel jy wil eerder tou opgooi en weer drink? Wat was die naaste wat jy sedertdien weer daaraan gekom het om te drink?
My jaar was geweldig geseënd en ek het in alle eerlikheid nie een keer naby daaraan gekom om terug te val nie. Juis ook omdat ek die plekke, mense en situasies vermy wat na ‘n relapse kan lei. Ek het eintlik ‘n heilige vrees dat ek sal terugval, so ek hou myself geweldig gedrewe in hierdie situasie. Ek is in die afgelope jaar deur ‘n paar geleenthede soos my hoërskoolreunie en ‘n werksgholfdag waar daar groot gekuier is, maar ek was totaal gemotiveerd om deur te druk. Elke situasie is vir my ‘n oorwinning en maak my sterker.

• Jy moes seker ‘n hele nuwe identiteit vestig sonder die kruk van alkohol. Wat verbaas jou van jouself? Verskil die nugter Hein baie van die dronk een, en in watter opsigte?
Nugter Hein en dronk Hein verskil geweldig van mekaar. Dronk Hein is minder aangenaam, so ek hou baie meer van die nugter een (Michelle ook). Ek voel beslis uit as al die res eers op ‘n stasie is, maar dan gaan ek maar net huis toe. Ek is verbaas hoe ek wel geleenthede soos die reünie kon geniet, ten spyte van die feit dat ek nie drink nie. Wat my seker die meeste verbaas het, is die invloed wat my besluit op ander het. Ek was ongelukkig wel bekend as ‘n groot kuiergat, en ‘n gevaarlike breker. Dit was my identiteit. Daar was ‘n tyd wat ek sou baklei (excuse the pun) om daardie reputasie te behou. Vandag is daardie identiteit vir my effe kinderagtig. Ek doen goed in my werk. Ek is die dronklap wat opgehou drink het, en dit is die nuwe ek. Hierdie nuwe identiteit is een waarop ek regtig trots is. Nou wil ek hê mense moet my sien as ‘n familieman, ‘n goeie bestuurder vir my personeel en iemand wat vas staan vir dit waarin hy glo.

• In watter opsigte het jou lewe verbeter sedert jy alkohol gelos het? Finansieel? Gesondheidsgewys? Jou verhoudings?
Daar is min aspekte van my lewe wat nie verander het nie. Finansiëel vaar jy beter, want nie net is drank ‘n duur stokperdjie nie, dit put jou ook uit, so jy kan nie optimaal in jou werk funksioneer nie. Kobus van Zyl het my in Julie na ‘n besuurspos bevorder, en ek glo nie die ou Hein sou daar uitgekom het nie. My gesondheid is heelwat beter, alhoewel ek ‘n groot liefde vir sjokolade ontwikkel het. My verhoudings met my vrou, ons seuns en my ouers het onherroeplik verander, omdat ek nou meer van myself hou, so ek voel ek het nou iets om hulle te bied. My liewe ma, wat haar lewe vir my omgebid het, is so trots op my, en dit beteken die wêreld vir my. Daar was tye wat ek gevoel het hoe skaam sy vir my kry, en dit opsigself is ‘n tipe rock bottom. Dan is dit ook vir my iets nuuts om plekke en situasies te beleef vir wat dit regtig is. Voorheen het ek alles soos ‘n dronk dwaas beleef.

• Hoe erg is jou stryd teen ‘n terugval? Wat is jou wenke aan ander om nie weer in dié slaggat te trap nie?
Ek ken myself. My triggers, my versoekings en my swak tye. My doel vir elke dag is sobriety, so ek waak teen enigiets wat nie dit is nie. Relapses is ook nie die einde van die pad nie, dit gebeur met meeste verslaafdes wat rehabiliteer. Ek is op dié stadium nie lus vir oorbegin nie, so ek werk elke dag aktief daaraan.

• En ‘n paar algemene wenke om daadwerklik op te hou?
Dit gaan groot en onaangename veranderings verg. Jy moet absoluut bereid wees om dit te doen. Sonder daaardie veranderings in jou gewoontes, vriende en plekke, gaan dit nie werk nie.
Kry ‘n goeie terapeut wat weet wat hulle doen.
‘n Ondersteuningsnetwerk is van kardinale belang. Toe ek ophou drink, het Michelle saam met my ophou drink. Sy gebruik geen alkohol nie. Alhoewel dit 100% haar eie besluit was, weet ek nie of ek dit regtig sou kon maak as sy nie die pad saam met my gestap het nie.
Gaan sien ‘n mediese dokter wat verslawing ken. Daar is medisyne wat kan help. Of dalk is ‘n rehabilitasiesentrum ‘n beter opsie vir jou. Ontrekkings van alkohol kan lewensgevaarlik wees, so moet dit nie alleen aanpak nie. En dan moet jy natuurlik God in jou lewe hê!

As jy voel jy het hulp nodig, skakel Erla Coetzee by 084 440 9095 of besoek https://www.aasouthafrica.org.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button