Nuwe kaart in Witrivier SAPD-raadsaal bevorder veiligheid
Daar is nou 'n gedetailleerde kaart van die omgewing in die Witrivier-polisiestasie om polisiëring te vergemaklik.
AfriForum se Witrivier-buurtwag het op Woensdag 9 November ’n gedetailleerde kaart van die omgewing in die Witrivier-polisiekantoor se raadsaal opgehang.
Dié kaart bevat omvattende inligting van die omgewing en dui die hoofroetes aan, om die polisie met gebeurlikheidsbeplanning te help en om tydens operasies duidelike inligting daarop aan te dui.

“Vanuit samewerking met die plaaslike polisie het ons agtergekom dat daar ’n behoorlike kaart in die polisiekantoor ontbreek, iets wat dit moeilik maak om operasies te beplan en uit te voer. Daarom het ons die kaart opgehang om die polisie by te staan, sodat hulle dit as ’n hulpbron kan gebruik om misdadigers die hoof te bied,” sê Dawie Ruthven, voorsitter van die Witrivier AfriForum-tak.
LEES OOK: Pad na Bateleur Landgoed in Mbombela herstel
“Hierdie projek is net weer eens ’n bewys dat buurtwagte wat aktief in hulle gemeenskappe betrokke is, ’n daadwerklike verskil kan maak.
“Hierdie kaart gaan die beplanning vir die plaaslike SAPD en AfriForum se Witrivier-buurtwag aansienlik vergemaklik, aangesien geografiese inligting wat ontvang word, maklik en vinnig op die kaart aangedui kan word, wat weer help om vinnige en akkurate inligting aan alle veiligheidsrolspelers te verskaf,” sê Arlo van Heerden, die distrikskoördineerder vir die Laeveld.
