Local news

Agter die kap van die byl by slangbytteengif ná kind deur spoegkobra gebyt word

Weens 'n landswye tekort aan slangbytteengif het 'n plaaslike Mbombela-hospitaal nie daarvan gehad toe 'n kind deur 'n slang gebyt is nie. Só werk die produksie en verkryging van dié teengiwwe.

Dit gaan goed met haar en sy is die springlewendige dogtertjie van voorheen.

Dit is die goeie nuus van Pink Barbeau, die pa van die 16 maande oue Hailey, wat twee weke gelede deur ‘n Mosambiekse spoegkobra gebyt is terwyl sy op die stoep van haar ouerhuis in Hazyview gesit het.

Melanie, haar ma, het vroeër aan Laevelder gesê dat Hailey se versorger, Nomfundo Mkasi, eers besef het die dogtertjie is op die regterboarm gebyt nadat sy die slang oor die grasperk sien seil en in die buurman se erf verdwyn het.

Daar is met Hailey na Mediclinic Nelspruit gejaag.

LEES OOK: Quick action saves Hazyview baby from snakebite death

Die meer dramatiese deel van die voorval was om teengif te vind om die dogtertjie mee te behandel, aangesien die hospitaal geen voorraad op sy apteekrakke gehad het nie.

Chris Hobkirk, ‘n bekende slanghanteerder van die Laeveld en eienaar van die Laeveld Venom Suppliers (LVS), het ‘n paar polivalente slangbytteengiwwe byderhand gehad.

Hierdie ampules word eintlik deur LVS vir hul eie personeel in ‘n noodgeval gebruik indien een van hulle gebyt word terwyl hulle slange melk.

Van die 10 flessies van 10 ml elk wat hy gehad het, was agt daarvan die lewensreddende teengif wat Hailey toegedien is.

Robyn Baard, die woordvoerder van Mediclinic Nelspruit, het verlede week gesê weens ‘n landswye tekort het hulle geen teengif in voorraad gehad nie.

Die twee belangrikste soorte teengif wat in die land gemaak word, is polivalent en monovalent, wat deur die Suid-Afrikaanse entstofprodusente (SAVP) naby Onderstepoort in Pretoria vervaardig word. Dit is ‘n staatsbeheerde instelling wat onder die beheer van die nasionale Departement van Gesondheid handel. Hulle is ook die enigste instelling in die land wat teengif kan vervaardig en verkoop.

Volgens Annekke van Schoor van die LVS is daar tans net drie slanggifmelkgeriewe in die land wat gelisensieer is om gif aan die SAVP te verskaf.

Sodra gif van slange gemelk is, word die vloeistof gedroog en in ‘n poeiervorm na die SAVP gestuur. Hier heraktiveer hulle weer die gif in ‘n vloeibare vorm, en ná ‘n reeks ingewikkelde toetse om gehalte te verseker, word die gif in klein hoeveelhede in ‘n perd se bloedstroom ingespuit.

Die dier se liggaam verhoog sy eie immuniteit om die effek van die gif in hul stelsel teë te werk. Dan word nog ‘n dosis ingespuit en weer produseer die dier meer teenliggaampies om die gif te beveg.

Hierdie proses is baie tydrowend en kan tussen ses tot agt maande neem vir die perd om genoeg immuniteit te produseer sodat sy bloed dan getrek kan word, sê die SAVP.

LEES OOK: Marloth Park lions at it again

Die bloed word in ‘n sentrifuge-masjien geplaas en die rooi- en witbloedselle word geskei. Die rooibloedselle word weer in die dier ingespuit en die witbloedselle word dan gebruik om poli- en monovalente te produseer. Volgens die SAVP het hulle ‘n groot trop perde wat in mamba-, kobra-, boomslang-, rinkhals- en addergroepe “geskei” word.

Teengif het ‘n rakleeftyd van drie jaar, en dit is elke mediese instansie se verantwoordelikheid om hul entstof by die SAVP te bestel.

Die produksiekoste van teengif is buitengewoon hoog, en kos tussen R3 000 en R7 000 om een 10 ml-ampule te produseer.

Polivalent word spesiaal vir swartmambas, groenmambas, Jameson se mamba, die Kaapse kobra, die snoetkobra (Egiptiese kobra), die boskobra, die gaboenadder, die Mosambiekse spoegkobra, die pofadder en die rinkhals gebruik.

Monovalente teengif word uitsluitlik vir boomslangbyte gebruik.

LEES OOK: KNP security increased for the festive season

Volgens die SAVP is sterftes weens slangbyte eintlik redelik skaars. “Giftige slange sal mense dikwels vermy, en as hulle wel byt, kan dit ‘n droë byt wees, of hulle spuit selde hul volle hoeveelheid gif in.

“Maar as jy gebyt word en gespesialiseerde hulp is nie binne 45 minute tot ‘n uur byderhand nie, kan daar baie ernstige gevolge wees.”

‘n Bestelling vir teengif wat die apteek by Mediclinic Nelspruit ‘n paar weke gelede geplaas het, is uiteindelik Maandag afgelewer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button