Local news

Metgeselle na troue sit beste voetjie voor in Pretoria

Die troue waarvoor 'n Mbombela-inwoner en haar vriendin landswyd na metgeselle gesoek het, was 'n heerlike dans- en saamkuieraffêre.

En so het die soeke na metgeselle na ‘n vriendin se troue tot ‘n einde gekom.

In Augustus reeds het twee vriendinne, Marunelle Hitge en Janke Mulder, hul soektog na twee metgeselle geloods. Hulle het die perfekte manne vir die joppie gekry, en aan die einde van November was dit trouetyd in Pretoria.

Riaan van Wyk het vir Hitge vergesel en Anrich Fourie vir Mulder.

LEES OOK: En die tweetjies se metgeselle na vriendin se troue is…

Hitge en die twee metgeselle het vir Mulder by die venue gekry, aangesien sy deel van die trougeselskap was.

Na afloop van die diens het die drietjies mekaar ook geselskap gehou terwyl Mulder besig was om foto’s te neem.

“Dit was so lekker om met hulle te gesels,” sê Hitge. “Dis baie goed dat ons hulle darem voor die tyd ontmoet het. Dit het baie gehelp.”
En gelukkig is hulle almal ekstroverte!

Met hulle maniere het daar ook niks geskort nie. Hitge sê hulle was die vriendelikheid vanself en het hulself aan ieder en elk voorgestel soos die dag verloop het.

“En hulle was ook nooit dikbek vir ‘n foto nie!” lag sy. “Dit is partykeer baie moeilik met mans, maar hulle was heeltemal meer as bereid om foto’s te neem.”

Mulder reken die metgeselle het baie goed gedoen. “Anrich was rêrig presies wat jy wil hê in ‘n metgesel. Hy het baie mooi na my omgesien, baie lekker gesokkie – dit was een van die hoogtepunte wat vir my belangrik was,” sê sy.

Buiten dit was dit ook bloot ‘n baie spesiale dag vir haar, aangesien sy baie na aan die bruidspaar is.

Riaan van Wyk, Marunelle Hitge, die bruidspaar Danél en JP Engelbrecht, Anrich Fourie en Janke Mulder.

Die party tricks waarna daar in die aanvanklike vraelys vir applikante gevra is, is blykbaar deur middel van danspassies uitgehaal.

LEES OOK: Gesoek: Metgeselle om tweetjies na troue te vergesel

“Ek weet nie waar kom al daai danspassies vandaan nie! En Anrich het my gehelp met ‘n grappie vir my toespraak, wat ek vir seker gebruik het! Hulle is baie snaaks.”

Die spanning was maar effe hoog oor hoe die manne sou maak om die rugby wat daardie naweek aan was, te kyk, want daar was baie swak sein by die venue. Maar, vinnig-vinnig het hulle ‘n nuwe beste maatjie gehad – iemand wat op die venue se Wi-Fi kon inkom.

“So dán het ons gedans en dán gooi hulle so een ogie op die foonskerm – dit was baie snaaks.”

Die dansery was beslis ‘n hoogtepunt vir almal. “Die dansvloer het geopen en ons het nie vir ‘n oomblik gesit nie. Ons het nie eers geëet nie; ek weet nie eers wat daar vir aandete was nie – ons het net poeding gehad,” sê Hitge.

So lekker soos die aand was, is daar egter bloot net vriendskap wat daaruit sal voorspruit. Dit was ‘n dag vir samesyn, vir pret en vir nuwe vriende.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button