Local newsNews

kykNET maak Kersfees spesiaal met Kersfeesblyspel

Kersfees word vanjaar ekstra spesiaal gemaak met die uitsending van Die kykNET Kersfeesblyspel op Saterdag 24 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Dis Oukersaand en die gemoedere loop hoog in ’n huis waar familie en vriende bymekaarkom. Die gasvrou besluit om die situasie te beredder en stel voor hulle voer die Kersverhaal op. Elkeen kry ’n rol om te vertolk en so begin die eeuoue verhaal voor ons oë afspeel…

Só begin kykNET se Die kykNET Kersfeesblyspel wat spesiaal vir hierdie Kerstyd vervaardig is en met groot name in Afrikaanse musiek, legendariese akteurs en ’n asemrowende stel, is dit beslis ’n moet-kyk hierdie feestyd.

In Die kykNET Kersfeesblyspel is Early B te sien as die engel Gabriël, Willem Botha is die herbergier, Stephanie Baartman is sy vrou en Germandt Geldenhuys is die donkie. Ook in die rolverdeling is Rika Sennett as die Bethlehem-ster, André Schwartz as ’n wyse man, Leah as Maria en Hammie Wessels as Josef. Lynelle Kenned vertolk verskeie karakters, waaronder Maria se vriendin, Babette, en ‘n ster, Gemma.

Die verhaal word deur interessante, moderne verwerkings van geliefde Kersfeesliedjies vertel met twee kinders met engelstemme, Albert Lintvelt en Alpe Lewis, wat ook ’n bydrae lewer. Die sangers is deur ’n sewestuk-orkes begelei en die blyspel is voor ’n gehoor by die Mosaïek-gemeente in Johannesburg opgeneem.

LEES OOK: Pret by Hervormde Kerk Lydenburg se gholfdag

“Dit was die lekkerste tyd nog ooit in my lewe,” sê jong Albert. “As ek die laaste tyd in een woord kon opsom, is dit dankbaarheid. Dankie dat ek deel van die Kersfeesblyspel kon wees.”

“Wat ’n fees! Alles was so lekker en die mense saam met wie ek kon sing en werk was ’n plesier. Die kykNET Kersfeesblyspel het my baie gelukkig gemaak,” sê Alpe.

Dit was nie net die kinders wat nie uitgepraat kon raak oor die blyspel nie. Germandt Geldenhuys sê: “Die hoogtepunt was om saam met ’n volle orkes al die mooi Kersmusiek te kon sing. Kykers kan uitsien om die alombekende Kersverhaal in ’n heel nuwe en unieke manier te sien. Hulle gaan ook blootgestel word aan pragtige musiek, asemrowende stelontwerp en ’n wonderlike ensemble spelers.”

“My hoogtepunt was dat kykNET my gevra het om met ’n konsep op te kom en dat ek dit kon deursien van begin tot einde; van die keuse van sangers tot regie,” sê Schwartz. “Dan natuurlik ook die voorreg om saam met ’n ongelooflike rolverdeling ’n verhoog te deel en Janine Neethling se beeldskone verwerkings. Ook die vervaardiger, Soné Combrinck, en regisseur André Velts wat die mooiste prentjies bymekaargesit het.”

“Behalwe om saam met die ander kunstenaars te werk, was nog ’n spesiale oomblik aan die einde van die konsert toe ons saam met die gehoor Kersliedere kon sing,” sê Baartman. “Die twee kinders is natuurlik opvreetbaar en ek dink hulle gaan ons almal oorskadu!”

Wat kan kykers verwag?

“Die mooiste musiek waar ons Jesus se verhaal op ’n baie unieke manier vertel,” sê Botha. “Dit is die perfekte manier om Kersfees te vier.”

• Die kykNET Kersfeesblyspel word op 24 Desember om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.
• Dit sal ook op Sondag 25 Desember om 14:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai word.

 
Back to top button