‘n Baanbreker van die Laeveld op 90 oorlede
Die Laeveld se eerste radioloog, dr. Sippel, sal deur baie onthou word vir die briljante dokter, vriend, pa en oupa wat hy was.
Duncan Sippel is na ‘n kort siekbed op 22 Oktober in die Mediclinic Nelspruit oorlede.
Sy lewenslange bydrae tot die Laeveldse gemeenskap en sy rol as pa, oupa en vriend sal vir altyd deur dié wat hom geken en liefgehad het, onthou word.
Hy sal deur baie onthou word as die eerste radioloog in die streek, en het in Mbombela en later ook Barberton, Malalane, Phalaborwa en selfs in eSwatini gepraktiseer.
Hy was uitnemend in sy veld en ‘n briljante diagnostikus, maar buiten dit is sy lewensverhaal die een van ‘n baie interessante, beskeie man en ‘n groot dromer. Daar kan werklik boeke oor Sippel se ryk lewe geskryf word.
LEES OOK: Furious action at last leg of 2023 MP Enduro Series in Sabie
Hy het ‘n passie vir veteraanmotors gehad en het self ‘n baie mooi versameling aangehou. Hy was ‘n lid van die Lowveld Old Wheels-klub en het tot onlangs toe nog aan ‘n ou Triumph, ‘n 1950 Fiat, ‘n 1962 DKW en sy gunsteling, ‘n ou Fordjie, gewerk.
Hy was ‘n entoesiastiese houtwerker en het verskeie meubelstukke gemaak wat nog steeds in die huise van sy kinders pryk.
Sy spitsvondige sin vir humor en algemene kennis was legendaries, en hy kon ‘n storie goed vertel.
Hy was beskeie en sou eerder onthou wou word vir die eggenoot, pa en oupa wat hy was, ‘n nederige familiemens op sy gelukkigste met sy vrou en kinders om hom. ‘n Mensemens.
Henry Duncan Sippel is op 19 Julie 1933 op Ficksburg gebore en was die enigste seun van Arthur en Jossie Sippel. Hy het drie susters gehad; Marie, Isobel en Barbara.
LEES OOK: SPAR Lowveld responds to Village SPAR closure
Sy mediese loopbaan het by Tukkies afgeskop, waarna hy ná sy vyf jaar sy huisdokterjaar op Bethlehem in die Vrystaat voltooi het.
Kort voor die tyd het hy sy eggenoot, Mariki Odendaal, ontmoet, en hulle is in 1965 getroud. Die tweetjies was 69 jaar saam, waarvan hulle 66 jaar getroud was voordat Mariki in Mei vanjaar oorlede is. Voor haar dood was hulle twee onafskeidbaar, en saam ‘n geliefde en bekende gesig by koffiewinkels op die dorp.
Van Bethlehem het die Sippels na Bray op die grens van Botswana verhuis, en daarna na Ermelo. Van Ermelo af het die Sippel-gesin Pretoria toe verhuis, waar hy vir vier jaar lank in radiologie gespesialiseer het.
Ná die vier jaar het die Laeveld, meer spesifiek Mbombela, hul nuwe tuiste geword.
LEES OOK: Pumas gereed vir Airlink Cup-aksie
Aanvanklik was Sippel se eerste radiologiepraktyk in die ou Legal and General-gebou in Brownstraat. Mettertyd het die praktyk na die Medsen-gebou geskuif, waarvan Sippel en sy destydse vennoot, dr. Eben Booysen, ‘n aandeel besit het.
X-straalkantore is ook in die Rob Ferreira Hospitaal, die Nelmed-gebou, Malalane, Barberton, Phalaborwa en eSwatini gestig.
Sippel en Booysen was instrumenteel om ‘n X-straalafdeling by die nuwe privaat hospitaal, vandag bekend as Mediclinic, te stig.
Twee maande voor sy dood het hy gehoor hy word as die oudste langslewende lid van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging in die Laeveld vereer.
Sippel laat die volgende familie agter: Arthur en Wendy Sippel, Isobel Sippel, Johann en Wanda Sippel, Mia en Jonathan Assad, agt kleinkinders en vier agterkleinkinders.
Sy familie, vriende en oudkollegas sal hom soos volg onthou:
“Krokodiltrane vir ‘n reusewese van goedheid, ‘n ligtoring van reg of verkeerd. Ons dokter-oupa wat bederf met roomyse in Avignon in ruil vir koppievryf. Rus saggies saam met Ouma,” skryf sy kleindogter, Gabi Kruger.
“Dr. Sippel: Hy was ‘n wonderlike werkgewer en ‘n wonderlike mens. As ‘n pasiënt te min geld gehad het vir die ondersoek wat hy benodig, kon ons die geld vat wat die persoon wel kon bekostig. Soms selfs minder as die helfte van die bedrag wat betaal moes word. Daar is nie later ‘n rekening vir die pasiënt gestuur nie. Hy kon ‘n grap maak en lekker lag en gesels. Hy was baie lief vir sy vrou, Mariki, asook vir hulle kinders. Hy was soos die Bybel sê, die sout van die aarde,” skryf Alta Joubert, ‘n oudpersoneellid.
“Dr. Sippel en sy vrou was ‘n groot deel van my en my gesin se lewens tot en met hul afsterwe. Dr. Duncan Sippel was my mentor, kollega, vertroueling en vriend. Jou stem is stil, maar jou legende as radioloog, familiemens, omgeemens, jou humorsin, liefde en regverdigheid vir jou medemens sal my vir altyd bybly. RIV.” skryf Petra Bekker, nog ‘n oudpersoneellid van 33 jaar.
“Ek is regtig hartseer om te hoor dat my ou vriend Duncan nie meer by ons is nie. Ons moet nie ween nie, want hy was die mees erkentlike mens wat ek ooit geken het. Ons verstaan nie dit wat in ‘n ander se gees aangaan nie, behalwe wanneer ons ernstig na hulle optrede kyk. Duncan het niemand in gees of in lewe benadeel nie, maar almal se lewens verryk. Wanneer jy sy ouderdom bereik sal die siening van deur ‘n spieël in ‘n raaisel van Paulus baie meer duidelik wees. Ek is dankbaar vir Duncan en Mariki se skoon vriendskap en voorbeeld,” skryf Fanie Combrink, ‘n vriend.




