Duisende Nelspruiters het hierdie afgelope week na ons video oor die ANC se sogenaamde “bloulig-brigade” gekyk, wat duidelik wys hoe talle verkeersvoertuie sowel as amptelike voertuie deur Riverside jaag.
‘n Soortgelyke konvooi wat Maandag omstreeks 10:00 na die Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe (KMIA) op pad was, het ‘n plaaslike elektrisien, mnr. Pierre van Vuuren, se voertuig beskadig. ‘n Metro-polisievoertuig het die kantspieëltjie aan die regterkant van sy Bantam-bakkie getref.
Van Vuuren vertel dat hy met drie werknemers na Witrivier op pad was toe die insident in Rocky Drift plaasgevind het. Volgens hom was hy besig om van die linkerbaan tot in die sperstreep te beweeg, juis om plek te maak vir die konvooi, toe die metro-polisiemotor hom tref.
‘n Ontstoke Van Vuuren het die brigade agternagesit en by die KMIA is hy deur ‘n Mpumalanga TRT-lid voorgekeer en meegedeel dat hy nie vinnig genoeg pad gemaak het vir die konvooi nie. Hierdie man wou nie sy eie of enige van die ander name aan Van Vuuren bekend maak nie. Ooggetuies het bevestig dat die verkeerspolisie, metropolisie- en amptelike voertuie teen ‘n hoë spoed, baie vinniger as die spoedbeperking van 80km/h vir die stuk pad, beweeg het.
‘n Saak van roeklose bestuur is by die Witrivier-polisiestasie geopen. “Iemand moet vir my skade betaal,” sê Van Vuuren, wat ook noem dat hy gelukkig was om sy eie voertuig onder beheer te kon hou. “As ek my motor gerol het, was ek of my werkers dood, en vir wat?” vra hy.
Sien die oorspronklike video hier, asook terugvoer vanaf die departement vir veiligheid, sekuriteit en gemeenskapsake.
