Hard newsNewsUpdate

Volledige berig: Twee dood en agt beseer in naweek-ongelukke

Die volledige berig oor twee ongelukke, kort na mekaar op die N4-hoofweg die afgelope naweek.

NELSPRUIT – Die motorongeluk op die N4 wat Sondagmiddag twee lewens geëis het, het motoriste vir ure frustreer. Boonop is agt ander in ‘n tweede botsing, kort op die hakke van die eerste, beseer.

Die pad is na die eerste ongeluk, wat kort voor 17:00 gebeur het, vir verkeer in beide rigtings gesluit. Dit het naby die Schoemanskloof-afdraai, ook bekend as Montrose, plaasgevind.

‘n Bakkie wat vanuit Nelspruit se rigting gereis het, het glo teen die kant van ‘n aankomende trok gebots. Beide die bakkie se insittendes is uit die voertuig geslinger en is op die toneel dood.

Die N4 is afgesper tot die ongelukstoneel opgeruim kon  word.
Die N4 is afgesper tot die ongelukstoneel opgeruim kon word.

Dit het in die teenoorgestelde rigting tot stilstand gekom, met een van die insittendes aan die linkerkant van die pad en die ander wat oor die reling aan die ander kant geslinger is.

Nooddienste was spoedig op die toneel en verkeersvloei het tot ‘n slakkepas afgeneem. Die bestuurder van ‘n tweede trok wat ook van Nelspruit se rigting aangekom het, het volgens ooggetuies hom egter met die spoed misreken en beheer oor die voertuig verloor. Die trok het teen ‘n aankomende Toyota Yaris gebots, wat op sy beurt die polisiemanne aan die kant van die pad getref het voordat dit op sy dak te lande gekom het.

‘n Werker van die insleepdienste wat ook op die eerste ongelukstoneel was, het vertel dat hy begin hardloop het toe hy die trok sien aankom.

In ‘n aankomende Toyota Yaris was me. Linmari Kruger (23), ‘n radioterapeut. Sy het Maandag in die hospitaal met Laevelder gesels oor wat gebeur het.

“Ek het gesien almal ry stadiger en ook stadiger gery. Ek het verby die wrak van die bakkie gery en daarna gekyk regs van my. Dit was seker twee sekondes, en toe ek weer voor my kyk toe is die groot trok reg voor my.”

Die trok het oor die pad geknipmes en gegly, reg in die Yaris in. Die voertuig gerol en heelwat agtertoe, agter die bakkie, op sy dak tot stilstand gekom. “Ek onthou niks behalwe dat die kar net aanhou rol het nie.”

Kruger se sitplekgordel was aan, en sy het onderstebo in die kar gehang. Haar sleutelbeen is gebreek en sy het twee snye aan haar kop. Haar femur, die been in die bobeen, is egter in stukkies. Sy het verduidelik dat dit skoongemaak is, maar volgens dokters eers meer gesond moet word voor hulle penne sal kan insit.

Sy het maar net twee weke voor die ongeluk Nelspruit toe verhuis. “Ek het so groot geskrik. En het nog nooit eens ‘n kar gestamp nie. Dit was ‘n nuwe kar,” het sy betraand gesê.

Volgens me. Lasea Swift, wat van Pretoria af terug na Nelspruit op pad was, het sy agter die Yaris gery.

“Ons kon sien daar was reeds ‘n ongeluk. Die Yaris het ook stadiger begin ry. Daar was ‘n kar aan die regterkant en polisielede aan die linkerkant. Die volgende oomblik het ‘n trok teen ‘n geweldige spoed aangekom. Dit is teen die berg op en toe in die Yaris vas, wat toe teen die polisiebeamptes vasgeslinger is. Die trok se agterkant is ook half bo-oor hulle en die motor het op sy dak te lande gekom. Dit het daarna geknipmes.”

Die Yaris se bestuurder was die enigste insittende en sy is deur paramedici hospitaal toe vervoer. Swift en ‘n dokter van Witrivier het haar bygestaan. Hy het gesê hy was verder agtertoe in die verkeer toe die ongeluk gebeur het, en hy het dit nie duidelik gesien nie. Hy het tog gevoel die trok het nie uitermate vinnig gery nie. Die pad was wel nat en dit het nog liggies gereën.

Twee motorfietsryers wat in Nelspruit se rigting op pad was, het ook gestop en gehelp, aangesien die een ‘n paramedikus is. Hy en sy mede-ryer is toegelaat om die nooddienswerkers te help.

Daar is gehoor hoe een van die polisiebeamptes op die toneel vir een van sy bevelvoerders sê: “Dit lyk verskriklik,” kort voor Laevelder gevra is om die toneel te verlaat. Noodwerkers was duidelik geskok oor die beserings van hul kollegas.

Mnr. Moeti Mmusi van die departement van gemeenskapsveiligheid, het bevestig dat die vier beseerde polisielede deel is van die Nelspruit-blitspatrollie en op die toneel was om bewysstukke na die eerste ongeluk te versamel. Hy kon nog nie hulle name bekend maak nie, en ook nie dié van die oorledenes nie.

Me. Robyn Baard, woordvoerder van Mediclinic Nelspruit, het bevestig dat drie van die beseerdes wat na die ongelukke by die hospitaal opgeneem is, reeds ontslaan is. Hoewel van die ander vyf teen druktyd in die intensiewesorgeenheid was, was almal stabiel.

Ooggetuies het vertel hoe hulle vir ure lank op die pad vasgesit het, terwyl die ongelukstoneel opgeklaar is. Die pad is eers teen ongeveer 22:00 weer vir verkeer oopgemaak.

Lees die aanvanklike berig hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button