Hard newsNews

Akteurs vereer by jaarlikse Fiëstas

Innibos het nou wel nie vanjaar weer met die Fiësta vir gewildste kunstefees weggestap nie, maar die skrywer Chris Barnard, 'n Laevelder en lid van die Innibos direksie, is vereer vir sy bydrae tot die Afrikaanse drama en skryfkuns.

PRETORIA – Die room van Suid-Afrika se kunstenaars oor alle genre heen, het Donderdagaand in die Staatsteater vir hierdie jaar se Fiësta-toekennings bymekaargekom. Hiérdie geleentheid is die land se eie Oscar-aand en die fokus is op produksies wat elke jaar by die onderskeie kunstefeeste op die planke gebring word.

Die aand het aan Nicola Hanekom behoort wat vir Land van skedels, verantwoordelik was, ‘n buitelugproduksie wat die konsentrasiekampe van die Tweede Vryheidsoorlog uitbeeld. Sy het nie minder nie as drie Fiëstas hiervoor ontvang.

Daar was groot opewondenheid onder die Innibos-span toe Tobie Cronjé vir sy spel in die solo-stuk, Ballade van ‘n banggat, vereer is. Dié produksie was een van die gewildstes tydens verlede jaar se Innibos en is die pennevrug van Barry van Rensburg.

DSCF7173 (Medium)

Hoewel Innibos nie vanjaar as die gewildste fees aangewys is nie, was dit steeds ‘n groot eer om as ‘n finalis in hierdie kategorie benoem te word.

Vir Innibos was dit ook ‘n groot pluimpie toe direksielid, Chris Barnard, vir sy lewenslange bydrae tot die drama en skryfkuns vereer is.

In ‘n kort huldeblyk oor sy lewe, is ‘n insetsel gespeel wat op Barnard se grootword-dae in die Laeveld gefokus het en waar sy liefde vir die gebied duidelik na vore gekom het.

Dr. PG du Plessis, self ‘n skrywer van formaat, het die toekenning aan hom oorhandig en het gesê Barnard het oor baie jare homself vernuwe deur soomloos na ander mediums soos televisie- en rolprentdraaiboeke asook verhoogstukke oor te skakel. Barnard is met ‘n staande toejuiging begroet toe die Fiësta aan hom oorhandig is.

Intussen is dit volstoom vorentoe in die Innibos-kantoor waar voorbereidings vir vanjaar se fees reeds ver gevorder is.

Die span is baie opgewonde oor die program-samestelling en beloof weer om aan elke feesganger iets te bied. Verlede jaar se hoofverhoog was ‘n groot trekpleister met die reuseskerms wat deur ongelooflike grafiese werk opgetower is. Tot dusver was daar min ander nasionale aanbiedinge wat hiermee kon meeding.

Geen moeite word ontsien om dieselfde standaard weer na die stad te bring nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button