WITRIVIER – ‘n Kampeerder het vroeg Sondagoggend ‘n noue ontkoming gehad toe ‘n boef ‘n geweer op hom gerig en die sneller getrek het, maar hom misgeskiet het. Die gewapende man was deel van ‘n groep rowers wat ongeveer 02:45 Primkopdam se kampeerarea betree en goedere uit tente begin roof het.
Volgens mnr. Frik Louw het sy seun, Leon, wakker geword van iemand wat by hul waentjie was. Louw jr. het gaan kyk wat aangaan en gesien hoe mense die bosse invlug. Hy het sy pa wakker gemaak en hulle het gesien dat hul skoene en ‘n hengelsak gesteel is.
Louw het kort daarna sy seun hoor gil.Daarna het hy gehoor nog iemand skree: “Lie down and keep quiet!”. Louw jr. het egter gehardloop om die ander kampeerders te waarsku. “As hy nie alarm gemaak het nie, sou meer mense besteel geword het,” vertel sy pa.
Die verdagtes het intussen teruggkom en Louw jr. se tent deursoek en sy selfoon, horlosie, trouring en ander klein items gesteel, voordat hulle na sy pa se tent gegaan het. Louw sr. is beveel om op die grond te lê, maar het geweier en die boosdoeners het ‘n vuurwapen op hom gerig.
Hy het nie ‘n wapen by hom gehad nie en het besef dat hy homself nie sou kon verdedig nie en het gevlug. Die boewe het daarna Louw sr. se kamera en selfoon gesteel.
Die naburige tent se mense is beveel om op die grond te lê en ‘n kamera, selfoon, kontant en beursies is gesteel. Louw sr. vertel dat die skurke toe ‘n vierde tent geteiken het. Die kinders het egter begin skree en die skurke het die bosse ingevlug.
Van die kampeerders het intussen die polisie gebel en Witrivier SAPD was vinnig op die toneel. Volgens Louw sr. het die honde-eenheid ook opgedaag en vingerafdrukke geneem.
Louw sr., ‘n gereelde hengelaar, vertel dat hierdie voorval hom laat besef het hoe gevaarlik dit by Primkopdam is, aangesien daar geen sekuriteit is nie. “As ‘n oupa wil ek graag ouers versoek om versigtig te wees. Baie laai hulle tieners vir die naweek hier af. Hulle het geen wapens nie en sal hulself nie kan beskerm nie,” sê hy.
Hy maan ouers om gebeurlikheidsplanne gereed te hê, veral as daar nie toesig gereël is nie.
