WITRIVIER – Sy was besig om vir reën vir die boere van die Heidel Vallei te bid, toe ‘n weerligstraal hul huis tref wat dit ure later in puin sou laat.
Me. Carina en mnr. Gert Schmidt is woonagtig in die Heidelberg Valley-area. Me. Schmidt het vertel dat sy omstreeks 14:00 in die televisiekamer gesit het toe sy ‘n harde slag hoor. Sy het iets geruik wat brand toe haar man die vertrek binnekom en sy het vir hom gesê sy dink die televisie brand.

Volgens Smit het Gert buite in die reën gaan kyk wat aangaan en gesien dat daar rook uit die dak kom. Die vlamme was toe reeds buite beheer.
“Ons het ons twee skoonseuns gebel en hulle het werkers en ander boere gebring om te kom help, maar die vlamme het ondanks die stortreën hoër gebrand as die lengte van ‘n man.”
Brandweerdienste van Witrivier is ontbied, en later ook ‘n span van Nelspruit. Volgens haar is meeste van die vlamme eers na 19:00 geblus, maar sekere dele het weer in die vroeë oggendure vlamgevat. Dit het die plaaslike brandweerpersoneel meer as 20 minute geneem voor hulle daadwerklik begin het om die vlamme te blus, het Schmidt haar misnoeë uitgespreek.

“Ek was mal!” het sy oor haar eerste reaksie toe hulle besef dat hul huis in is gevaar, gesê. “Ek het eers ‘n geskenk wat my kinders vir my gekoop het, ‘n paar skilderye en my Bybel gered.” Sy kon egter nie betyds by haar trou-album of die kinders se kleintydfoto’s uitkom nie. Ongeveer 90 persent van die Schmidts se woning en meubels is totaal vernietig, maar gelukkig is hulle veilig, het sy bygevoeg. Sy het benadruk hoe belangrik dit is om toepaslike en breedvoerige versekering vir onvoorsiene gevalle soos hierdie, uit te neem.
“Ons wonderlike kinders staan ons nou by, en het tot vir ons nuwe klere gekoop!” het sy nog met ‘n glimlag bygevoeg. “En ons sal nie weer ‘n grasdakhuis hier bou nie.”
Hoewel die tragedie die familie diep geraak het, bly hulle steeds positief. Hulle wou al die boere en werkers en gemeenskapslede van die vallei bedank vir hul hulp en bemoedigende boodskappe.
