
LYDENBURG – Drie mense is op 15 Maart beseer toe twee voertuie in ‘n botsing op die Roossenekalpad betrokke was. Die bestuurder van ‘n Toyota bakkiehet vermoedelik ‘n slaggat tydens swaar reën probeer vermy.
‘n Mercedes Benz wat agter die bakkie gery het, het toe in laasgenoemde vasgery. Die passasier agter op die bakkie het ernstige beserings opgedoen en is na die Lydenburg Hospitaal gehaas. Die man is later na Rob Ferreira in Nelspruit oorgeplaas.
Beide bestuurders van dié voertuie het ligte beserings opgedoen. Volgens mnr. Deon Broekman van Rapid Response is slaggate ‘n groot oorsaak van ongelukke op die paaie. Swaar reen dra ook by tot swak sig.
Hy maan bestuurders om by die spoedgrens te hou en veral versigtig te wees vir slaggate wat weens die nat toestande ontstaan het.
