NELSPRUIT – So aan die einde van die Laeveldse somer is dit steeds warm en mense hou van swem om bietjie af te koel. Tog het min toegang tot swembaddens in hul agterplase en is hulle op openbare fasiliteite aangewese.
Nie net swem oud en jonk vir ‘n koel lafenis nie, maar hulle oefen ook. Van Riebeeckpark se Olimpiese-grootte swembad en fasiliteite soos die badkamers, is egter nie gebruikersvriendelik nie.
Laevelder het al talle kere berig oor Nelspruit se vuil swembaddens en die ablusiegeriewe wat uitmekaarval. Die koerant het onlangs by Nelsville se swembad besoek afgelê.
Dit is kleiner as die een by Van RiebeeckPark, maar is ideaal vir skool- en klubswemgalas en onderwaterhokkiewedstryde. Daar word nie net meegeding nie, maar ook vir kompetisies voorberei. Beide is onder Mbombela Munisipaliteit se beheer, en tog is die verskil tussen die fasiliteite se instandhouding duidelik. Nelsville se gronde is baie netjies. Die gras is kort gesny, die tuine netjies en die kleedkamers vlekkeloos.
Die swembad is groen, maar dis moontlik weens die storms wat die stad meer as twee weke gelede getref het. Tog word Van Riebeeckpark se swembad steeds met die hand skoongemaak. Die munisipaliteit het amper twee maande gelede reeds bevestig dat hulle in die proses is om nuwe skoonmaakmateriaal aan te skaf. Dit is mooi blou, met sandkolle plek-plek op die bodem.
Laevelder het verlede jaar berig dat die munisipaliteit sowat R4 miljoen deur die jaar spandeer het om die administratiewe gebou te verbeter. Die kleedkamers is veel groter as dié van Nelsville maar nie so netjies nie. Dit het ‘n gebreekte deur hier en ‘n beskadigde venster daar. Die tuine is ook vervalle in vergelyking met die bad se eweknie in Nelsville. Die gebruik van beide swembaddens kos volwassenes R40 per maand, of R11 per dag.
Mnr. Joseph Ngala, die munisipaliteit se woordvoerder, het nie kommentaar oor Mbombela se instandhouding van die gewilde ontspanningsplekke gelewer nie.
