
MBOMBELA – Vir kinders is iets soos misdaad uiters traumaties omdat dit hulle veilige wêreld deurmekaarkrap. Iets wat hulle emosioneel of fisies ken, word weggevat of verander.
Die Laeveld gaan die afgelope tyd erg gebuk onder misdaad, wat wissel van inbrake tot marteling en selfs moord. Kinders moet soms toekyk hoe hulle ouers deur boosdoeners verniel word. Laevelder het plaaslike opvoedkundige sielkundige wat in kindertrauma spesialiseer, Hannalize Coetzee geraadpleeg om uit te vind wat misdaad presies aan ons kleingoed doen.
Om mee te begin, sê Coetzee dat die manier waarop ouers trauma hanteer, as’t ware ‘n kind maak of breek.
Ouers wat byvoorbeeld te veel oor die gebeurtenis praat, kan maklik sekondêre trauma by die kleinding veroorsaak. Dit beteken basies dat ‘n kind nie noodwendig betrokke hoef te wees by ‘n misdaad om trauma te ondervind nie, maar wanneer ouers te veel daaroor praat, dra hulle die emosionele letsels oor.
Maar, ‘n traumatiese ervaring daag die kind se normale funksionering uit en hy of sy kan op verskillende maniere daarop reageer. In jong kinders, die vatbare ouderdom van vyf jaar en jonger, speel angs en vrees ‘n groot rol, veral vrees vir vreemdelinge en skeidingsangs.
Laasgenoemde is wanneer kinders ‘n vrees onwikkel om alleen gelaat te word, en volgens Coetzee, is dit uiters belangrik vir ouers om te sorg dat hulle altyd iemand naby hulle het.
Daarom is dit noodsaaklik om aan ‘n kind se behoefte aan veiligheid te voldoen deur gerusstelling en baie aandag te gee.
Kinders van hierdie ouderdom kan vaardighede wat hulle reeds bemeester het, soos om te praat of skoene vas te maak, verloor as daar nie aan hierdie behoeftes voldoen word nie. Laerskoolkinders (ses tot 11) kan die aspekte van die misdaad in oorvertellings verwar. Klagtes oor siektesimptome waarvoor daar geen ooglopende mediese verklaring is nie, soos kopseer of maagpyn, kan ook begin voorkom. Gereelde terugflitse kom voor by adolessente (12 tot 18), sowel as aggressiewe gedrag. Baie wend hulle dan na dwelms en drank om sodoende “beter te voel” of van die slegte ervaring te vergeet. Dit is ook hier waar selfmoordneigings kan voorkom. Tekens dat kinders aan trauma ly sluit onder meer huilerigheid, angs, aggressie, swak eetgewoontes, ongewone gedrag, haatdraendheid en nagmerries in.
Kinders gebruik dikwels verdedigingsmeganismes om trauma te verwerk.
Dit sluit die volgende in
• Projeksie – ‘n kind blameer die omgewing vir wat gebeur het
• Onderdrukking – alle bewustelike kennis van die traumatiese ervaring word na die onderbewussyn verdring
• Ontkenning – die kind ontken die ware feite oor wat gebeur het
• Retrofleksie – kinders projekteer dikwels hulle gevoelens op hulself
• Defleksie – hulle verbreek normale en gesonde kontak met hulle omgewing
• Regressie – hulle kan selfs terugbeweeg na ‘n vorige stadium van hulle ontwikkeling.
Wat kan ouers, of selfs vriende doen om te help? Kinders moet aangemoedig word om daaroor te praat. Om dit te ignoreer het geen bydrae tot die verwerking van trauma nie. Maar dit is ook belangrik om toe te laat dat hulle uit eie wil daaroor begin praat. Daarom gebruik terapeute soos Coetzee spel as ‘n medium. “Meeste van die kere begin kinders dan uit hulle eie uit praat as hulle aan die speel raak,” sê sy.
Die kind kort dan iemand om sy gevoelens en vrese mee te deel, nie iemand wat sedespreke, kritiek en oordele gee nie. Direk na die voorval moet kinders meestal net vertroos en vertroetel word. Wees eerder beskermend en liefdevol. En onthou, ‘n akute post-traumatiese verandering in gevoel, denke en optrede is normaal – maar aanhoudende of uitermatige simptome is nie.
Lees oor ‘n onlangse geval hier
Lees ander stories oor misdaad hier
