

MBOMBELA – Met die uitputtende brandseisoen in die Kaap nou iets van die verlede, is talle plaaslike brandbestryders op pad terug na hulle tuisfront.
Maar die kosbare tyd saam met hul families is egter van korte duur aangesien die provinsie se brandseisoen stadig maar seker nader kruip. Dit begin amptelik op 1 Junie, maar vanaf vandag (15 Mei) word talle bestryders reeds op ‘n hoë gereedheidsgrondslag geplaas.
Dit word toegeskryf aan warm en droë toestande wat tans ondervind word. “Die bietjie reën het nie regtig gehelp nie,” sê mnr. André Scheepers, bestuurder van Lefpa (Lowveld and Escarpment Fire Protection Association).
Hy verduidelik dat die verminderde reënval veroorsaak het dat die gras, asook die grond waarin dit groei, uiters droog is. “Met hoë reënval, bly ‘n gedeelte van die gras groen aan die onderkant as gevolg van die klam grond, wat die risiko vir weghol-veldbrande verminder. Maar, hierdie jaar het daar slegs ‘n derde soveel reën as verlede jaar geval,” sê Scheepers.
Verkenningsvliegtuie asook dié verantwoordelik vir bestryding, word nou reeds in orde gekry sou brande vroeër begin uitbreek. “Dit was ‘n woelige seisoen in die Kaap en ons is lekker moeg. Dit is nie altyd lekker om weg te wees van die huis af nie, maar ons geniet die ruskansie terwyl ons kan, want jy weet nooit wat die seisoen kan bring nie,” sê verkenningsvlieënier
mnr. Eric Nel.
“Met tendense soos dié Kaap, maak ons onsself reg vir ‘n interessante jaar,” sê Scheepers. Talle prosesse is reeds aan die gang om vir die seisoen voor te berei. Dit sluit onder meer die opknapping van hulpbronne, die opleiding van werknemers, oefening asook die voorbereiding van die vlieëniers in.

Die gemeenskap word aangemoedig om ekstra voorsorg hierdie seisoen te tref.
Kyk hier na meer foto’s van opleiding hier
