WITRIVIER – Drie vermeende koperdiewe is op vrye voet nadat hulle Vrydagmiddag op heterdaad met gesteelde koperkabels in hul besit betrap is.
Dit volg nadat die eienaar van die koperkabels na bewering daarteen besluit het om ‘n saak by die polisie aanhangig te maak.
Volgens J&M Sekuriteit se mnr. Shaun Terblanche, ook die operasionele bestuurder van dié sekuriteitsmaatskappy, het sy personeel patrollie gery toe hulle op die mans op die R40 net buite Witrivier afgekom het.
“Ons het die gesteelde koperkabels, ter waarde van ongeveer R10 000 in hul besit gekry en die drie mans na die polisiestasie geneem,” het Terblanche gesê.
Volgens hom het die eienaar op wie se grond die verdagtes vasgetrek is, egter besluit om nie ‘n klag by die polisie te open nie.
“Die gevolg is dat hulle (die verdagtes) vrygelaat is,” het Terblanche gefrustreerd gesê.
Die sekuriteitsmaatskappy het hulle na sosiale media gewend en inwoners aangemoedig om ‘n klag by die polisie te lê.
Die publiek het gereageer deur die eienaar van die grond waar die verdagtes aangekeer is, as ‘n idoot uit te kryt weens die feit dat geen verdere stappe geneem is nie.
Terblanche sê in die meeste gevalle sien die klaer die papierwerk wat gepaardgaan met die indien van ‘n klag as teveel moeite en besluit hy/sy om die saak te laat vaar.
Hy het die publiek egter gemaan om wel die regte roete te volg en in sulke gevalle ‘n klag by die polisie in te dien.
“Die polisie kan slegs hierby baat en op die ou einde van die dag verseker dit ook dat die korrekte statistiek weergegee word. Dit is die verantwoordelikheid van die slagoffer om ‘n klag te lê anders kan oortreders nie vervolg word nie.”
