
Twee plaaslike inwoners moes Donderdag ‘n verskriklike toneel naby Laerskool Laeveld gadeslaan.
Simon de Goede en sy meisie Keisha Kleynhans was op pad van ‘n seremonie by Hoërskool Bergvlam toe hulle ‘n vreemde silhouette langs die pad opgemerk het.
De Goede het nader gery en toe die ligte van sy voertuig daarop val, het hulle gesien dit was ‘n man wie se hele bolyf vol bloed was wat daar langs die pad staan.
Erg van balans af, het die man voor hulle ingeval. “Ek wou nie naby hom stop nie. Ek was bang dit is ‘n lokval en sodra ek stop, spring iemand uit die bos en beroof ons,” sê De Goede.
Hulle het ‘n ent verder stilgehou en die nooddienste geskakel terwyl hulle die man dophou.
“Hy het snaaks geloop en dit was dudielik dat hy ernstig beseer was,” sê hy.
“Netcare, die polisie, J&M Sekuriteit en Hi-Tech Mediese Dienste se reaskie was ongelooflik vinnig.
“Hulle was binne vyf minute op die toneel,” sê hy.
Hy het later op die Facebook-groep, Nelspruiters, gevra of iemand weet wat met die man gebeur het, waarna dit aan die lig gekom het dat hy vermoedelik deur sy vriend met ‘n gebreekte bottel gesteek is.
Die man het volgens bystanders erg geskree en was in ongelooflike pyn toe die nooddienste op die toneel aankom.
Hi-Tech Mediese Dienste het bevestig dat die man in ‘n bestendige toestand was, en na Rob Ferreira Hospitaal geneem is.
Die plaaslike polisie kon egter nie bevestig wat presies gebeur het nie.
