MBOMBELA – Mnr. Gert van der Merwe (41) wat op 30 September deur bye getakel is toe hy gaan draf het, lê steeds in ‘n koma in Mediclinic Nelspruit se intensiewesorgeenheid. Sy gesin bly egter positief en glo dat hy volkome sal herstel.
Laevelder het oor die voorval op Friedenheim Landgoed berig.
Lees ook: Man kritiek na bye hom takel
Van der Merwe is die eienaar van Mbombela Staal en woon sowat 19 jaar lank al op Friedenheim. Hy, sy vriendin, me. Juanita du Plooy en Van der Merwe se twee seuns het laatmiddag gaan draf. Hulle was bewus van die byekorwe langs die plaaspad omdat hulle gereeld met motorfietse daar verby gery het. Die insekte het hulle nog nooit vantevore gepla nie.
Daardie dag het hulle egter op Van der Merwe, Du Plooy en sy oudste seun toegesak en hulle verwoed gesteek. Hulle het in ‘n nabygeleë kanaal gespring in ‘n poging om van die verwoede bye weg te kom, maar dit was vergeefs.
Van der Merwe se seun kon later daarin slaag om na die huis te hardloop. Hy het ‘n bakkie gaan haal en met sy pa en Du Plooy na Mediclinic gejaag. Van der Merwe se hart het egter intussen gaan staan en dit sou 12 minute duur voordat hy weer ‘n pols gehad het.
Sy suster, me. Anita van Wyk, het hierdie week aan Laevelder gesê dat hy onder geen verdowing is nie en self asemhaal. Hy is egter in ‘n baie diep koma. “Ons het al talle dokters by hom gehad, maar niemand kon nog vir ons sê wanneer hy wakker gaan word en of hy blywende skade sal hê nie. Sy organe funksioneer darem goed en sy bloedtoetse wys niks abnormaal nie, so ons is positief,” het van Wyk gesê.
Hulle weet nie hoeveel bye hom gesteek het nie. Hy het die ergste deurgeloop omdat hy Du Plooy en sy seun deurgaans onder die vlak water gedruk het. “Die swelsel het eers die afgelope vier dae begin sak. Soos ons oor sy kop en wenkbroue gevryf het, het die angels net bly uitkom,” het sy bygevoeg.
Sy loof Mediclinic en die personeel vir die goeie diens wat hulle ontvang. “My broer is ‘n fighter,” het sy geglimlag.
Hulle verwyt niemand vir die voorval nie. “Dit was ‘n fratsongeluk. Ek hoor dit was baie warm in die Laeveld daardie dag en dat die hitte vermoedelik die bye geïrriteer het.”
Vriende en familie het Woensdagaand in die parkeerarea van Mediclinic bymekaargekom en vir Van der Merwe gebid.
