Hard newsNews

Gemeenskap ken steeds nie gay-wees

Is die gemeenskap van vandag meer verlig oor homoseksuele verhoudings of word daar nog neergekyk op die leefstyl? Terwyl kerke debatteer of gay-lidmate die Here op dieselfde manier mag dien as ander, is daar soveel meer wat Jan Publiek dalk nie weet van die homoseksuele leefwyse nie. Irma Green het gaan hoor wat die gay-gemeenskap van als wat ‘oor’ hulle gesê word dink en nie gewoonlik ‘met’ hulle bespreek word nie.

‘n Groep plaaslike homoseksuele mans wat al jare lank hul leefstyl uitleef, sê dat hulle vandag baie minder diskriminasie as in die verlede ervaar. Meeste van hierdie groep is professionele mans wat baie sukses in hul onderskeie vakgebiede bereik het. “Ek het baie lanklaas iemand gehad wat direk teen my gediskrimineer het. Ek dink ook ons het verander. Vandag leef ons saam met ons gekose partners en nie in geheimhouding nie.

“Dis nie eers meer iets waaraan ek dink in my daaglikse bestaan nie. Ek meng nie met mense wat ‘n afkeur in my leefstyl het nie, so ek word dalk nie blootgestel aan snedige aanmerkings nie,” het een man gesê. Die meeste van hierdie groep is by ‘n diverse vriendegroep ingeskakel wat gay-wees sonder voorbehoud aanvaar. “Ons vind dit vreemd dat mense soms nog ‘n issue van dit maak.”

As jong mans was daar tog tye waar hulle by nagklubs deur groepe mans getakel sou word en as “moffies” uitgekryt sou word. Maar sedertdien het dinge drasties verbeter.
Dit was egter nie noodwendig ‘n maklike proses om “uit die kas te klim” nie. Vir die meeste van die groep was hul seksualiteit al ‘n gegewe van ‘n jong ouderdom af.

“Ek staan steeds verstom dat mense dink jy moes gemolesteer gewees het as kind of dat daar iets spesifieks met jou moes gebeur het om gay te word,” verduidelik hulle en voeg by dat dit eintlik tiperend is van die oningeligtheid van die breë publiek. Nog meer bisar vir die groep is dat mense steeds glo dat “jy gesond gebid kan word”. “Dit bestaan nie. Jy kan dit nie wegbid as jy met blonde hare gebore is. Jy kan dit ook nie wegbid as jy gay gebore is nie.”

Vyf goed wat jy van gay mans moet weet:
1. Hulle is nie pedofiele nie, jou kinders is veilig. Oppas eerder vir die vriendelike, getroude oom in die familie.
2. Die verhouding bestaan nie uit “mannetjies”en “vroutjies” nie.
3. Hulle stel nie in ‘n straight man belang nie so jy hoef nie vir die berge te hardloop nie.
4. Jy kan nie gay-geit wegbid nie, dis nie ‘n siekte nie.
5. Aanvaar met liefde en respek en jy het ‘n friend for life!

Wat wel waar is, en waaroor die groep konsensus het, is dat “seksualiteit nie vir almal ‘n swart-en-witgebied is nie en dat hulle soort van ‘n graderingsisteem gebruik om dit te verduidelik.” As mens op ‘n skaal van een tot 10 gaan waar een heteroseksueel en 10 homoseksueel is, is daar steeds ‘n grys gebied in die middel. “Iemand op vyf is biseksueel en is aangetrokke tot mans en vroue.  Volgens die groep begin die groot stryd op ses want jy mag moontlik ‘n sterk gay drang toon, maar gaan tog soms terug na heteroseksuele verhoudings. “Dis gewoonlik hier waar jy mans kry wat dan met vroue trou,” verduidelik hulle.

Vir die meeste in die groep is die kerk se besluit dat hulle welkom is, “too little too late”. Dié eng benadering maak meeste warm onder die kraag. Een waarheid is wel dat sommige gay mans ‘n baie promiskue lewe lei, maar dan, soos in enige ander huwelik is daar pare wat al ‘n leeftyd bymekaar is. “Daar is net een keuse wat jy kan maak, of jy aanvaar wie en wat jy is, of nie. En as jy besluit om te leef wie jy is, sal die gemeenskap dit repekteer,” was een van die mans se kommentaar.

Maar gay-wees is nie ewe maklik vir almal nie. In gesprek met ‘n man wat voorheen getroud was, erken hy dat hy soms nêrens inpas nie. “Eerstens was dit ‘n geweldige groot stap om te neem om te besluit om nie meer in ‘n leuen te lewe nie. “Maar dit het ook nie beteken dat alles oornag beter was nie. Ek het met depressie geworstel en geweet dat ek mense seergemaak het in die proses. Dit was besluite wat ek geneem het omdat ek ook gelukkig wou wees.”

Maar hoe gebeur dit dat iemand trou en in sommige gevalle ook kinders het? “Dis nie eenvoudig nie. Ek het konserwatief grootgeword, maar kon nooit reguit vir my familie sê dat ek tot mans aangetrokke was nie. Dit was ook nie aanvaarbaar in ons klein gemeenskap nie en ek het later getrou en my blind gestaar teen wat almal (familie en gemeenskap) as die “regte” leefwyse beskou. Gay-wees was nie ‘n opsie nie, dit was eers later dat hy besef het iets kort en hy was nie gelukkig nie.

Hy sê dat hy twee uiteenlopende reaksies vanuit die gemeenskap gehad het. Die een groep mense het hom beskinder en sleggesê en dan op ander kere was hy soms totaal onverwags in opregtheid en met liefde ondersteun deur iemand van wie hy dit die minste verwag het. Hoewel hy weer ‘n sielsgenoot gekry het, leef hy steeds “konserwatief” gay en handhaaf ‘n lae profiel. Sy gewese vrou het weer liefde gevind en hy glo dat als op die ou einde reg uitgewerk het.

Vir die res van die groep gaan die lewe aan soos normaal. Al wat belangrik is, is dat hul families vir hul lief is en aanvaar soos hulle is. Ja, soms hoor hulle mense noem hulle “moffies” maar selfs dit pla nie. “Ons noem onsself sommer oom Poef en tant Mof en dryf ook die spot met die stereotipering van wie ons is. Daar is moffies onder ons wat dalk meer verfynd is as ander, maar dit is bloot net nog ‘n mite dat daar ‘mannetjies’ en ‘vroutjies’ is tussen ons. Eintlik al wat ons wil hê is dat ons ook met respek behandel moet word.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button