Hard newsNews

Storm woed voort oor die gays se plek in die kerk

Die Algemene Sinode van die NGK het die Rubicon oorgesteek met onlangse besluite rondom homoseksualiteit.

“Elke aspek, hoek en konteks van Bybelgedeeltes wat na homoseksualiteit verwys, is deur die dekades ondersoek. Hoe pas ons iets wat millennia terug gesê is in vandag se tyd toe?” vra ds. Nelis Janse van Rensburg, nuutverkose moderator van die NG Kerk (NGK). “Die kerk worstel werklik om God se wil te onderskei en Sy wil word in die Woord gevind. Die proses rondom selfdegeslagverhoudings was en bly moeilik en navorsing en gesprek duur steeds voort.”

Die Algemene Sinode van die NGK het die Rubicon oorgesteek met onlangse besluite rondom homoseksualiteit. In 2013 is ‘n taakspan aangewys om ‘n studie te doen oor die status van selfdegeslagverhoudings in die lig van die Bybel en Gereformeerde tradisie. Hierdie verslag het voor die pas afgelope sinode gedien waarna ‘n besluit geneem is. Die besluit herbevestig die feit dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ‘n huwelik beskou word. Daar word wel aan burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag erkenning gegee wat deur liefde en trou gekenmerk word. Die besluit gaan verder deur toestemming te gee dat selfdegeslagverbintenisse deur gewillige predikante, bevestig kan word. Gay-predikante kan ook nou gelegitimeer word.

In die besluit word die diversiteit van beskouinge oor selfdegeslagverbintenisse binne die NG Kerk erken. Ook die reg van kerkrade om hieroor hul eie standpunte te formuleer en praktyke te reël. Volgens dr. Stephan Joubert, buitengewone professor in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, is dit nie noodwendig ‘n slegte ding dat kerkrade self hieroor moet besluit nie: “Dit beteken dat plaaslike leiers en gemeentes nou eie verantwoordelikheid moet aanvaar om identiteitsvorming op selfstandige maniere te fasiliteer.”
Sommige gelowiges verwelkom die besluite.

Ander – NG-lidmate sowel as lidmate van ander denominasies – gebruik verskillende platforms om heftig beswaar daarteen aan te teken. Skeuring is skynbaar onafwendbaar net soos die NGK in die laat tagtigs geskeur het na nóg ‘n geskiedkundige waterskeidingsbesluit. In Oktober 1986, 29 jaar gelede, is apartheid finaal deur die NGK verwerp. Hierdie besluit het teenkanting ontvang en tot skeuring en stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) gelei.

Die NG Kerk in Namibië het in ‘n pastorale brief op hul Facebook-blad die twee kante van die debat raak opgesom: “Ons aanvaar die opregtheid en goeie trou van gelowiges wat aan weerskante van die debatslyn staan. Trouens, ons sien ‘n ‘Gods-angs’ deurslaan na alle kante toe. Teenstanders is bang hulle is aan God se wet en voorskrif ongehoorsaam en voorstanders is bang hulle is ontrou aan Christus se liefdesgebod.” Gerugte dat die Namibiese NGK gaan afstig van die Algemene Sinode as gevolg van die gay-besluit doen die rondte, maar volgens ds. Pine Pienaar, moderator van die Namibiese sinode, is dit nie waar nie: “Alhoewel daar ernstige woelinge in Namibië is oor die onderhawige saak is daar geen sprake van bande losmaak van die Algemene Sinode nie.”

‘n Facebook-vraag oor wat Laevelders van die besluite dink, het verskillende reaksies uitgelok. Charlene Heskes Uys skryf: “Live and let live. Enige oordeel kom God toe.” Die meerderheid kommentare illustreer egter dat medegelowiges nie almal begrip vir mekaar se standpunte het nie. Ene Johan Fourie skryf: “Sover dit my betref kan die gays met hul perverse leefstyl en die moderator met sy boks en al maak wat hulle wil solank hulle dit uit die ‘kerk’ uithou. Gelukkig sal Christus sy kerk suiwer hou deur loutering (sommiges noem dit ook skeuring) soos wat aan die gebeur is. Die NGK het nou ‘n sosiale spyskaart-klub geword omdat hulle nie meer die soewereiniteit van God en die Woord erken nie. Soos alle sondaars, myself ingesluit, is die moderator, Algemene Sinode en gays nou ook kandidate vir bekering.”

Maar waar staan die NGK in die Laeveld wat die besluite betref? Die Laeveldse NG-gemeentes vorm deel van die Ring van Barberton wat deel is van die Oostelike Sinode van die NGK. Dié sinode het in ‘n beskrywingspunt gevra dat die Algemene Sinode dit sal oorweeg om te besluit dat die status quo van vorige besluite rondom homoseksualiteit en die huwelik gehandhaaf word, maar lede van die diensraad van die Oostelike Sinode het later aangedui dat hulle beskrywingspunt kan wegval om plek te maak vir die twee ander voorstelle op die tafel. Ds. Jurgens de Jager, die ring se verteenwoordiger verduidelik: “Die ring het besluit dat kerkrade van die verskillende gemeentes nou hul eie standpunte rondom selfdegeslagverhoudings moet formuleer. Die ring sal dan op ‘n spesiale vergadering kennis neem van die verskillende standpunte.”

Volgens Johan Willemse, ‘n gay Laevelder, word die besluit deur homoseksuele gelowiges verwelkom. Hy is verheug dat daar uiteindelik oor hierdie netelige onderwerp gepraat word en beskryf dit as die spreekwoordelike sweer wat oopgebars het. “Alhoewel ‘n noemenswaardige persentasie van Suid-Afrikaners homoseksueel is, is dit steeds in sekere gemeenskappe skandelik en taboe om gay te wees. Homoseksuele word in ‘n heteroseksuele wêreld gebore en stap gewoonlik ‘n worstelpad om uiteindelik, indien ooit, by selfaanvaarding uit te kom.” Die storm duur voort en slegs tyd sal die skade bepaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button