Hierdie “aasvoël” kan nou lewens red
MBOMBELA – Insleepmanne het die reputasie van aasvoëls. Motoriste dink dikwels dat hulle op ‘n ongelukstoneel toesak met net een doel voor oë: om ‘n voertuigwrak weg te sleep en geld te maak. Die teendeel is egter waar. Hulle verrig ‘n belangrike taak en doen baie meer as wat van hulle verwag word. Hulle is …
MBOMBELA – Insleepmanne het die reputasie van aasvoëls. Motoriste dink dikwels dat hulle op ‘n ongelukstoneel toesak met net een doel voor oë: om ‘n voertuigwrak weg te sleep en geld te maak.
Die teendeel is egter waar. Hulle verrig ‘n belangrike taak en doen baie meer as wat van hulle verwag word. Hulle is dikwels vóór polisie- of verkeersbeamptes op ‘n toneel en beveilig dit dan deur kegels uit te sit en die verkeer te reguleer.
Hulle is ook soms voor paramedici en die eerstes om op dikwels ernstig beseerde bestuurders en passasiers af te kom. Hierdie paar minute kan krities wees om iemand se lewe te red.
“Motoriste verloor dikwels hul bewussyn tydens ‘n ongeluk. Hulle koppe hang vooroor en hulle kan nie behoorlik asemhaal nie en loop die gevaar om te versmoor. Dit kan verhoed word deur bloot die kop op te tel,” verduidelik me. Kim Habib, ‘n gevorderde lewensondersteuningsparamedikus by ER24.
Dit is presies hoekom ER24 besluit het om Willem Swart, ‘n insleep-operateur van Van Wettens, in noodhulp op te lei. Hy het hierdie week sy vlak 3-opleiding voltooi. Hy kan nou doen wat ‘n basiese paramedikus doen.
Hy kan onder meer die regte behandeling toepas om erge bloeding te beheer, gebreekte bene en ander lewensbedreigende beserings identifiseer en ook kardiopulmonêre resussitasie toepas.
Lees ook: Sewe dood nadat minibus-taxi beheer verloor
“‘n Paramedikus moet by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika geregistreer wees. Iemand met noodhulpopleiding soos Willem mag nie inspuitings toedien of ander medikasie gee nie en ook nie geld vir sy dienste aanvaar nie,” het Kim verduidelik.
“ER24 het besluit om hom op te lei, nie net omdat dit iemand se lewe kan red nie, maar omdat dit ons ook mannekrag en tyd sal spaar,” het Greg Wilcox, ook ‘n gevorderde lewens-ondersteunings-paramedikus en takbestuurder van ER24, verder verduidelik.

“Ons weet nie hoe ernstig iemand beseer is as ons na ‘n ongelukstoneel jaag nie. Motoriste het nie altyd mediese sorg nodig na ‘n ongeluk nie. Willem kan nou self bepaal of iemand beseer is en hoe ernstig dit is. Ons kan dan omdraai en eerder na ander tonele gaan waar ons dienste wel benodig word,” het Greg gesê.
ER24 se kursusse in noodhulp strek gewoonlik oor vyf dae. Omdat ER24 egter nie ‘n opleidingsbasis in Mbombela het nie, en hulle Willem tussendeur hulle gewone skofte opgelei het, het dit hom sowat twee weke geneem om dit te voltooi. Hy het drie teoretiese en praktiese eksamens afgelê en ‘n gemiddeld van 92 persent behaal.
Lees ook: Vrou sterf in ongeluk op pad huis toe van Innibos af
“Ek is baie trots op hom, hy het my baie beïndruk,” het Kim gesê.
“Ek sal nie sê dit was regtig moeilik nie, eerder interessant,” meen Willem. Hy het veral die opleiding oor babaverstikking en kardiopulmonêre resussitasie geniet.

“Dit is nie ons wat lewens red nie, maar mense wat eerste op tonele is,” het Kim benadruk.
“Ons kom dikwels op ongelukstonele waar daar tot 20 beseerdes is. Ons het altyd nog hande nodig. Hoe meer mense opleiding in noodhulp het, hoe beter,” het Greg bygevoeg.
Lees ook: Vrou wat ongeluk in Ferreirastraat aanskou deel haar ervaring
Sal Swart ooit ‘n paramedikus word? “Nee, ek is nie een vir in ‘n klas sit en leer nie,” frons hy. “As daai gogga jou eers byt…” lag Kim.
Swart het al op tonele aangekom waar vriende van hom dood is. “Jy bêre dit hier agter. Baie ver. Diep. Jy beweeg maar vorentoe en kyk of jy die volgende een se lewe kan red.”
